Groot grondeis in Pretoria teengestaan

Groot grondeis in Pretoria teengestaan

Die sakeregtewaghond AfriSake het onlangs weer ingegryp om ʼn groot grondeis ten opsigte van eiendomme in die ooste van Pretoria teen te staan.

Volgens AfriSake het sy regspan onlangs ’n voorverhoorvergadering oor die Lekhuleni-grondeis by die grondeisehof in Randburg bygewoon.

Armand Greyling, regs- en beleidsontleder by AfriSake, het gesê die voorverhoor het meestal gefokus op die oplos van kwessies wat tydens die verhoor gehanteer sou moes word.

Die verhoor sal waarskynlik later vanjaar begin, het Greyling gesê.

“Dit beteken dat slegs finale beëdigde verklarings geliasseer moet word, aangesien die aangeleentheid gereed is om verhoor te word. AfriSake eis dat die grondeisehof se beslissing dat die Lekhuleni-eis geldig is, tersyde gestel word omdat die administratiewe diskresie in hierdie geval slegs by die grondeisekommissaris berus,” het hy verduidelik.

Greyling meen dit blyk dat hierdie eis opportunisties en soortgelyk is aan die Bakwena ba Mare a Phagole- of Suid-Gauteng-grondeis waarby AfriSake ook aktief betrokke is.

“Ons glo dat die reg sy gang moet gaan wanneer geldige eise ingedien word, maar in dié geval kan ons nie saamstem dat die eis geldig is nie. Die grondeisehof se betrokkenheid in hierdie saak oor die diskresionêre gesag van die grondeisekommissaris blyk ook onvanpas te wees en AfriSake sal alles in sy mag doen om te verseker dat die regte prosedures gevolg word,” het Greyling gesê.

Dié grondeis betrek meer as 500 residensiële eiendomme, nege plase en verskeie skole en besighede. Dit is na bewering deur wyle Victor Lekhuleni ingestel, wat aangevoer het dat hy die leier van die Bakgatla Ba Lekhuleni-stam was. Hy is ná sy dood deur Velaphi Victor Lekhuleni opgevolg.

Volgens AfriSake is die eis na bewering op 21 Oktober 1996 by die grondeisehof ingestel. Ná ’n ondersoek het die kommissie dit op 16 Januarie 2013 duidelik gemaak dat geen eis ingedien is nie en dat die kommissie nie sal voortgaan om die eis te ondersoek nie. Op 8 Augustus 2014 het die grondeisehof dié besluit egter hersien en tersyde gestel.

As die hof se besluit nie tersyde gestel word nie, sal hulle voortgaan om die meriete van die saak te beveg betreffende of enigiemand weens diskriminerende wette met geweld van die eiendom ter sprake verwyder is, het Greyling bygevoeg.

Deur: Maroela Media


KFC-voorval: Drie in hof

Drie mans van Pretoria wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn egpaar in Montana aangerand het, het Vrydag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn.

Landdros Motlhoki Rapulana het na die mans se aansoek om borgtog geluister en gesê sy het tyd nodig om die bewyse te bestudeer, voordat sy haar besluit op 30 Augustus bekend sal maak.

Staatsaanklaer Ronnie Sibanda voer aan die mans moet nie vrygelaat word nie, aangesien hul veiligheid nie gewaarborg is nie en ʼn gevoel van vrede in die gemeenskap ondermyn kan word. “Die aansoek om borgtog moet ook in die belang van die publiek wees, aangesien die voorval in die publieke arena plaasgevind het.”

Stephan Nel (39), Joshua Scholtz (21) en Dicky Junior van Rooyen (21) staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ʼn vuurwapen. Hul een medebeskuldigde, Marius Harding (23), het sy aansoek om borgtog laat vaar en nog ʼn beskuldigde, Ockert Muller (20), se aansoek om borgtog is reeds goedgekeur.

Die mans word daarvan beskuldig dat hulle Jacob Sono en sy vrou Dudu op 2 Augustus by die KFC-deurrybaan in Montana, Pretoria, aangerand het. Video’s van die voorval is wyd op sosiale media versprei.

Konst. William Tladi, ʼn ondersoekbeampte in die saak, het vroeër tydens die aansoek om borgtog getuig en het aan die hof gesê Sono kon aan ʼn hartaanval gesterf het. Hy het gesê Sono se mond en ore het gebloei nadat hy by die kitskosrestaurant aangeval is. Hy was die tweede getuie om die borgtogaansoek van die mans teen te staan.

Tladi het aan die hof gesê beskuldigde nommer een, Stephan Nel, het by die toneel aangekom toe die bakleiery begin het, en hy het ʼn vuurwapen op Sono gerig voor hy hom saam met sy medebeskuldigdes geslaan het. “Dit is hoekom ek die borgtog teenstaan. ʼn Persoon kan sterf as jy hom teen die kop slaan.”

Adv. Francois Kriel, vir Schultz, voer aan Sono is vir ʼn knop op sy kop behandel en ʼn gebarste membraan in sy oor wat binne ʼn paar dae genees het. Hy hou vol die beserings was nie ernstig of lewensgevaarlik nie.

Tladi het aan die hof gesê die aanvallers het nie net die egpaar fisies aangeval nie, maar ook rassistiese uitlatings gemaak.

Daar is egter geen aanklagte wat met rassisme en crimen injuria verband hou op die klagstaat nie.

Nel se prokureur, Nols Nolte, het aan die hof gesê Tladi is nie vertroud met die besonderhede van die saak nie, en hy het net opdrag gekry om hof toe te kom en die borgtogaansoek teen te staan. Nolte wou weet waarom daar geen klag van crimen injuria is nie, indien Dudu Sono beledig is, aldus die polisie se weergawe.

Tladi het gesê hy het nie die klaers se verklarings geneem of die klagtes geformuleer nie. Hy het gesê hy het die dossier ontvang om ondersoek in te stel.

Seun vas oor bedrog van R93 miljoen, pa in hof oor korrupsie

Tseko Mojalefa Rabotho (29) het Vrydag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn op aanklag van korrupsie.

Rabotho is op 17 Augustus deur die Valke in hegtenis geneem op aanklag van bedrog, korrupsie en geldwassery ten waarde van R93 miljoen, het lt.kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, gesê. Hy het aanvanklik op 21 Augustus in die hof verskyn waar dit aan die lig gekom het dat hy ʼn aantal bates, insluitend twee luukse eiendom en 19 motors, bekom het, wat nooit gefinansier is nie.

“Net voor Rabotho Donderdag vir sy aansoek om borgtog in die hof sou verskyn, wou sy pa, Jackie Nicholas Rabhoto (57) die ondersoekbeampte by die Valke se kantoor in Pretoria glo met R52 000 kontant omkoop,” het Netshiunda verduidelik. “Hy is dadelik in hegtenis geneem. Hy het ʼn verdere R48 000 kontant in sy besit gehad.”

Jackie het Vrydag in die hof verskyn op aanklag van korrupsie.

Die twee mans moet weer op 31 Augustus in die hof verskyn.