KFC-voorval: Drie in hof

Drie mans van Pretoria wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn egpaar in Montana aangerand het, het Vrydag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn.

Landdros Motlhoki Rapulana het na die mans se aansoek om borgtog geluister en gesê sy het tyd nodig om die bewyse te bestudeer, voordat sy haar besluit op 30 Augustus bekend sal maak.

Staatsaanklaer Ronnie Sibanda voer aan die mans moet nie vrygelaat word nie, aangesien hul veiligheid nie gewaarborg is nie en ʼn gevoel van vrede in die gemeenskap ondermyn kan word. “Die aansoek om borgtog moet ook in die belang van die publiek wees, aangesien die voorval in die publieke arena plaasgevind het.”

Stephan Nel (39), Joshua Scholtz (21) en Dicky Junior van Rooyen (21) staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ʼn vuurwapen. Hul een medebeskuldigde, Marius Harding (23), het sy aansoek om borgtog laat vaar en nog ʼn beskuldigde, Ockert Muller (20), se aansoek om borgtog is reeds goedgekeur.

Die mans word daarvan beskuldig dat hulle Jacob Sono en sy vrou Dudu op 2 Augustus by die KFC-deurrybaan in Montana, Pretoria, aangerand het. Video’s van die voorval is wyd op sosiale media versprei.

Konst. William Tladi, ʼn ondersoekbeampte in die saak, het vroeër tydens die aansoek om borgtog getuig en het aan die hof gesê Sono kon aan ʼn hartaanval gesterf het. Hy het gesê Sono se mond en ore het gebloei nadat hy by die kitskosrestaurant aangeval is. Hy was die tweede getuie om die borgtogaansoek van die mans teen te staan.

Tladi het aan die hof gesê beskuldigde nommer een, Stephan Nel, het by die toneel aangekom toe die bakleiery begin het, en hy het ʼn vuurwapen op Sono gerig voor hy hom saam met sy medebeskuldigdes geslaan het. “Dit is hoekom ek die borgtog teenstaan. ʼn Persoon kan sterf as jy hom teen die kop slaan.”

Adv. Francois Kriel, vir Schultz, voer aan Sono is vir ʼn knop op sy kop behandel en ʼn gebarste membraan in sy oor wat binne ʼn paar dae genees het. Hy hou vol die beserings was nie ernstig of lewensgevaarlik nie.

Tladi het aan die hof gesê die aanvallers het nie net die egpaar fisies aangeval nie, maar ook rassistiese uitlatings gemaak.

Daar is egter geen aanklagte wat met rassisme en crimen injuria verband hou op die klagstaat nie.

Nel se prokureur, Nols Nolte, het aan die hof gesê Tladi is nie vertroud met die besonderhede van die saak nie, en hy het net opdrag gekry om hof toe te kom en die borgtogaansoek teen te staan. Nolte wou weet waarom daar geen klag van crimen injuria is nie, indien Dudu Sono beledig is, aldus die polisie se weergawe.

Tladi het gesê hy het nie die klaers se verklarings geneem of die klagtes geformuleer nie. Hy het gesê hy het die dossier ontvang om ondersoek in te stel.

Seun vas oor bedrog van R93 miljoen, pa in hof oor korrupsie

Tseko Mojalefa Rabotho (29) het Vrydag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn op aanklag van korrupsie.

Rabotho is op 17 Augustus deur die Valke in hegtenis geneem op aanklag van bedrog, korrupsie en geldwassery ten waarde van R93 miljoen, het lt.kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, gesê. Hy het aanvanklik op 21 Augustus in die hof verskyn waar dit aan die lig gekom het dat hy ʼn aantal bates, insluitend twee luukse eiendom en 19 motors, bekom het, wat nooit gefinansier is nie.

“Net voor Rabotho Donderdag vir sy aansoek om borgtog in die hof sou verskyn, wou sy pa, Jackie Nicholas Rabhoto (57) die ondersoekbeampte by die Valke se kantoor in Pretoria glo met R52 000 kontant omkoop,” het Netshiunda verduidelik. “Hy is dadelik in hegtenis geneem. Hy het ʼn verdere R48 000 kontant in sy besit gehad.”

Jackie het Vrydag in die hof verskyn op aanklag van korrupsie.

Die twee mans moet weer op 31 Augustus in die hof verskyn.

Pretoria Commuters get some relief as Taxis expected to operate normally

Tshwane commuters can expect some relief as taxis are expected to operate normally this morning.

On Wednesday, operators blocked several roads causing massive delays while protesting to the Tshwane House to submit a memorandum to Mayor Solly Msimanga.

Among the issues raised by the drivers is that traffic contravention tickets be scrapped.

Taxis in the Tshwane area are expected to function without any hiccups at least for the next two weeks.

The Democratic Taxi Workers Union of South Africa (Detwusa)’s Themba Maseko says the government is responsible for providing taxi infrastructure, including pick-ups and drop offs.

He says drivers should not be fined for government’s failure.

“Our demands are the scrapping of the traffic fines because those fines block our PDPs and driver’s licenses and we can’t drive passengers without our PDPs.”

Maseko says the fines amount to hundreds of thousands of rands which prevent some drivers from renewing their public drivers’ licenses.

Detwusa has given the metro 14 days to respond to their queries or face yet another strike action.


Sewe verdagtes word aangekeer in Pretoria ivm motorfietsdiefstalle

Sewe verdagtes word aangekeer in Pretoria ivm motorfietsdiefstalle

Die Pretoriase polisie het sewe verdagtes in hegtenis geneem in verband met ʼn vlaag motorfietsdiefstalle die afgelope tyd.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het gesê die mans, tussen 25 en 35 jaar oud, is Dinsdag in die vroeë oggendure in Rooihuiskraal in Centurion in hegtenis geneem.

“Die mans se modus operandi was om na bewering in ʼn wit Quantum in die Rooihuiskraal-omgewing rond te ry op soek na motorfietse wat binne of buite persele parkeer is,” het Huma gesê.

“Nadat hulle ʼn spesifieke huis identifiseer het, sou hulle later in die aand terugkeer, die honde vergiftig om toegang te verkry en dan die motorfiets steel.”

Huma het gesê die polisie in samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum en plaaslike veiligheidsmaatskappye het ʼn gesamentlike intelligensie-gedrewe operasie geloods en die Quantum Dinsdag omstreeks 01:30 opgemerk.

“Die polisie het die voertuig voorgekeer en die sewe verdagtes is in hegtenis geneem. Toerusting om by huise in te breek en klapmusse is in hul besit gevind en beslag is daarop gelê.”

Die verdagtes moet binnekort in die hof verskyn op aanklag van die besit van huisbraak-toerusting. Die Wierdabrug-polisie ondersoek die moontlikheid of die verdagtes met ander voorvalle in die gebied verbind kan word.

Die polisie het inwoners gewaarsku om nie waardevolle besittings oop en bloot te laat nie.

Deur: Maroela Media


‘Sekuriteitsbreuk’ by Mededingingskommissie in Pretoria

Mededingingskommissie

Die Mededingingskommissie het Saterdag gesê daar was ʼn “sekuriteitsbreuk” by sy kantoor in Pretoria vroeër die week.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die kommissie, het gesê twee skootrekenaars is Dinsdag by die afdeling gesteel wat verantwoordelik is vir ondersoeke na kartelgedrag.

“Die voorval is by die polisie aangemeld en die saak is deur die Valke oorgeneem vir verdere ondersoek,” het Ngwema gesê.

Hy het gesê die kommissie het die nodige voorsorgmaatreëls getref om veiligheid en sekuriteit op te skerp.

Inwoner van Pretoria voor haar verloofde geskiet wyl hy video neem

Carine van Staden (28), ʼn inwoner van Pretoria, is Donderdag voor haar verloofde glo deur ʼn weermaglid in die noorde van die stad geskiet.

Carine se pa, Johan van Staden (53), het Saterdag aan Maroela Media gesê sy dogter en haar verloofde, Johan Harmse (29), was omstreeks 18:00 van Daspoort op sy BMW-motorfiets op pad na vriende in Montana toe ʼn amptelike weermagvoertuig hulle naby Wonderboom Junction ligtelik getref het.

“Die voertuig, ʼn wit Audi, het weermagnommerplate gehad en ons het intussen vasgestel die jong man wat dit bestuur het, is glo ʼn drywer vir een van die generaals,” het Van Staden gesê.

“Die man het die motorfiets se voetrus getref waarop Carine se voete was en die man het toe net weggejaag,” het hy gesê.

Harmse het ʼn draagbare videokamera aan sy valhelm gehad, dit aangeskakel en die voertuig agterna gesit.

“Die verkeerslig by die hoek van Lavenderweg en Braam Pretoriusstraat was rooi en die man moes stilhou. Carine het afgeklim en hom genader om te hoor hoekom hy weggery het. Hy het bloot net sy deur oopgemaak en ’n pistool reguit in haar bors gedruk en haar ten aanskoue van haar verloofde en ander motoriste geskiet.”

Die man het daarna glo ook sy vuurwapen op Harmse, wat nog op sy motorfiets was, gerig voordat die verkeerslig groen geslaan en hy weggery het. Harmse se video van die voorval is aan die polisie as bewys oorhandig.

Carine is na die George Mukhari-hospitaal gehaas waar sy tans aansterk. “Die koeël het haar hart skrams gemis. Dit is deur haar linkerlong en agter haar rug uit. Haar long het platgeval, maar verder is geen ander organe beskadig nie. Sy is gelukkig ʼn sterk mens en is by haar positiewe. Sy is stabiel en dit gaan goed met haar onder die omstandighede.”

Harmse en Van Staden is ná haar opname na die Sinoville-polisiestasie om die voorval aan te meld. Dit was sowat ʼn uur en ʼn half ná die voorval. Die weermaglid was toe reeds daar en het, aldus Van Staden, aangevoer hy het gedink Carine wou hom kaap. Hy het nooit amptelik ʼn klag aanhangig gemaak nie.

Ao. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, het Saterdag aan Maroela Media bevestig aanvanklik is ʼn klag van die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn openbare gebied en roekelose en nalatige bestuur teen die man aanhangig gemaak voordat hy op waarskuwing vrygelaat is.

“Ons kan bevestig dat die saak intussen na ʼn poging tot moord verander is. Die polisie is besig met verdere ondersoek en is besig om almal se verklarings af te neem, waarna die dossier na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys sal word om oor verdere stappe te besluit,” het Van Dyk gesê.

Dit is nie duidelik hoe lank dié prosedures gaan duur nie. Die weermaglid is nog nie in hegtenis geneem nie.