Nuuskommentaar: Zuma se ‘derde termyn’, KPMG en die burgerlike samelewing

SunCity:

jacob-zuma-2

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die jongste verwikkelinge om KPMG laat die vraag ontstaan: “Hoe wyd loop die staatskaping in die land?” Sake moet uitgepluis word te midde van nog ’n beweerde ramp wat kan plaasvind – pres. Jacob Zuma het glo gedreig om hom in Desember vir nog ’n termyn as ANC-president verkiesbaar te stel – ’n aanduiding van hoe diep die president se werklikheidsvreemde opvattings strek.

In dié stadium is dit nog net ’n gerug dat pres. Jacob Zuma hom tydens sy party se Desember-verkiesingskonferensie as ANC-president herkiesbaar kan stel. Tog, met Zuma weet ’n mens nooit. Tot dusver het Zuma se selfbeeld selfs onder die felste kritiek nie ’n duik weg nie, en hy het onlangs selfs verklaar dat hy meen hy doen sy werk goed, en dat niemand vir hom sê waar hy foute sou maak nie.

Nou (meen hy) kan hy glo die ANC weer verenig aangesien sy kandidaat-opvolgers klaarblyklik nie daartoe in staat is nie. Hoe Zuma by daardie sommetjie uitkom, weet nugter, want hy maak opsigtelik ook van die verdeel- en-heers-tegniek gebruik om drywend te bly.

Met die Bell Pottinger-saak wat nou effe uit die vernaamste nuusfokus verskuif, word die land getref deur ʼn nog groter skok. Die internasionale ouditeursfirma, KPMG, erken nie net brouwerk nie, maar doen iets daaraan deur ’n groot groep Suid-Afrikaanse topbestuurslui se bedankings te aanvaar. Die firma gaan sy fooie vir werk vir die Ontvanger, wat onder meer tot die “rogue unit” se heksejag met Pravin Gordhan as eerste prys opgelewer het, aan die Ontvanger terugbetaal.

Die sowat R40 miljoen wat uit Gupta-firmas verdien is, gaan aan welsynsorganisasies sonder winsbejag, en onderwysgerigte organisasies geskenk word. Tog gaan die stemme op – te min te laat en siviele eise gaan volg.

KPMG het baie lank as onkreukbare fort by die gewone publiek bly staan. Menige transaksie wat op die oog af verdag gelyk het, is goedgemaak deur te sê dit is deur KPMG geoudit. Tog, met die geval waar R30 miljoen belastingbetalersgeld wat vir die abortiewe Vrystaatse melkplaas by Vrede bestem was, maar met ’n ompad glo vir die spandabelrige Gupta-troue by Sun City betaal het, het die wenkbroue gelig.

Die senior KPMG-bestuurder wat aan die hoof van die betrokke oudit was, was immers self op die troue en na berig word, het hy die verrigtinge gate uit geniet. Toe die bom bars, was hy egter reeds weg by KPMG en op die punt om ’n nog meer senior pos op te neem. Hy het dadelik bedank.

Maar KPMG gaan nog meer bloei, hoewel dit waarskynlik is dat diegene wat skade kan bewys, soos in die geval van die “rogue unit” en wat gevolglik ontslaan is, skikkings buite die hof met klousules van geheimhouding aangebied sal word.

Presies hoe wyd loop die staatskaping? Só wil ’n mens vra ná die KPMG-onthullings en erkennings.

Ná die Bell Pottinger-debakel sou verwag word dat hierdie firma hom wyd van die Suid-Afrikaanse politieke arena sou hou. Die interessantheid is egter dat die SAUK opnuut Zuma met sy besoek aan die VN as presidensieel probeer voorhou het. Die poging om die minister van internasionale betrekkinge se beeld te poets was egter danksy ’n power vertoning deur die minister ’n ramp vir haar en Suid-Afrika. Tog, die SAUK se mededeling dat Zuma per SAL gereis het as deel van die bevordering van toerismemaand, lyk darem al te veel na die (amateuragtige) werk van ’n beeldpoetser. Is die nalatenskap van Bell Pottinger nog in ons regeringskringe aan die woel? Aan die ander kant, selfs die swakste beeldpoetsfirma sou met so ’n idee vorendag kon kom.

In die geheel staan baie Suid-Afrikaners verstom oor die groot verrotte voetspoor wat tydens Zuma se byna voltooide twee termyne oor die land getrap kon word. Was hy self argitek hiervan, of was aanloklike aas vir hom uitgehou?

Dat Zuma nou ’n benoudheid ervaar, sou vanselfsprekend wees nadat sy eie regspan aan die regters van die appèlhof toegegee het dat die terugtrek van die meer as 780 klagtes van onder meer bedrog irrasioneel is. Sou die hof in sy uitspraak (wat voorbehou is) volgens die aanduidings bevind, is dit nog nie vanselfsprekend dat Zuma sy dag in die hof sal kry nie. Dit mag wees dat die NVG steeds besluit om nie te vervolg nie, en ’n sertifikaat dienooreenkomstig uitreik. Dit open weer die weg vir private vervolging, en die kapasiteit daarvoor word nou om ’n ander rede by AfriForum geskep.

“Sa, vat hom, Bulhond!”

Die burgerlike organisasies in hierdie land het die afgelope paar jaar gewys hulle is nie katjies wat sonder handskoene aangedurf kan word nie, en so hoort dit in ’n grondwetlike demokrasie, met ’n vrye media wat ’n ewe belangrike rol te speel het.

Waarnemers het dit egter eens dat die kanse skraal is dat Zuma hom wel Desember herverkiesbaar sal stel, of dat hy toegelaat sal word om hom verkiesbaar te stel. Die wete dat daar ná nog ’n Zuma-termyn niks van die ANC oor sal wees nie, weeg al swaarder.

Maar weet of glo Zuma dit self?

DA oorhandig KPMG-verklaring aan Valke vir ondersoek

SunCity:

KPMG-twitter

Foto: @SADN_Diaspora/Twitter.com

Die Demokratiese Alliansie het KPMG Internasionaal se verklaring aan die Valke oorhandig om hulle by te staan met hul voortgesette ondersoek oor die omstrede Gupta-familie.

Die DA het die ondersoek oor die werk wat KPMG Internasionaal namens die Gupta-familie gedoen het, verwelkom, het David Maynier, woordvoerder van die DA, Sondag gesê. Dit het daartoe gelei dat sewe senior beamptes van KPMG Suid-Afrika bedank het.

“Die ondersoek oor die oudits van Gupta-maatskappye, insluitend Linkway Trading (Edms) Bpk, ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy wat deur die Guptas bestuur word wat na bewering betrokke was in belastingontduiking, het bepaal dat die ‘bestuur van talle Gupta-maatskappye misleidend en onvoldoende reageer het op die ouditspanne se navrae oor die aard van die betrokke party se verhoudings en beduidende ongewone transaksies.”

Maynier het gesê dit beteken dat KPMG Internasionaal, en KPMG SA, moontlik oor inligting beskik wat noodsaaklik is vir die Valke se ondersoek oor die minister van minerale hulpbronne Mosebenzi Zwane, Atul Gupta, Ajay Gupta, Rajesh Gupta, Ronica Ragavan en Kamal Vasram oor beweerde geldwassery; dat hulle mekaar bygestaan het om voordeel te trek uit die opbrengs van onwettige aktiwiteite; die aanskaf, besit of gebruik van opbrengs uit onwettige aktiwiteit kragtens die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde misdaad; en dat hulle vervalste belastingopgawes ingedien het.

Die ondersoek volg nadat Maynier op 3 Julie 2017 strafregtelike klagtes aanhangig gemaak het nadat dit aan die lig gekom het dat publieke geld wat aangewend moes word om armes by te staan, na bewering deur ʼn komplekse web van maatskappye gewas is en in 2013 gebruik is om vir Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia se luukse troue van ongeveer R30 miljoen by Sun City te betaal.

“Ek het ʼn afskrif van KPMG Internasionaal se persverklaring, wat op 15 September 2017 vrygestel is, aan genl.maj. Zinhle Mnonopi [hoof van die Valke se ernstigekorrupsie-ondersoeke] oorhandig. Dit sal moontlik hul ondersoek kan bystaan.”

Maynier het gesê dit is moontlik dat voormalige minister van finansies Pravin Gordhan regstappe teen KPMG SA kan doen vir die maatskappy se rol in die forensiese oudit oor ʼn sogenaamde “rogue”-eenheid. Gordhan het die aankondiging deur KPMG SA verwelkom dat hy sy SAID-verslag wat hy namens die Gupta-familie gedoen het, gaan terugtrek.

Gordhan verwelkom onttrekking van KPMG se SAID-verslag

SunCity:

Voormalige minister van finansies Pravin Gordhan en voormalige adjunkminister van finansies Mcebisi Jonas Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, het die onttrekking van die SAID-verslag oor die werk wat die ouditeursfirma KPMG namens die Gupta-familie gedoen het, verwelkom.

Gordhan het gesê hy was verras deur die “absolute minagting” wat die maatskappy gewys het in hul rol oor die kaping van die inkomstediens en die “groot skade wat hy gedoen het aan die lewens en reputasie van ʼn baie professionele, eerlike en lojale groep staatsamptenare”.

“Dis jammer dat ʼn maatskappy met die statuur van KPMG, met ʼn verantwoordelikheid en verpligting om objektief te wees, hul plig versuim het. Dit word vererger deur hul samewerking met die Gupta-familie,” het hy in ʼn verklaring gesê.

“KPMG moes die integriteit en eerlikheid gehad het om daarop te wys dat die navorsing- en ondersoekeenheid wat in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens op die been gebring is, wettig was; dat die bedrywighede om die onwettige tabakhandel en ander pogings om ʼn einde te bring aan belastingontduiking binne die wet gedoen is; en dat KPMG geen basis gehad het om ʼn belangrike staatsinstansie te kaap nie.”

KPMG Suid-Afrika het Vrydag Nhlamu Dlomu aangestel as sy nuwe uitvoerende hoof. Dlomu het gesê sy is toegewyd om die ouditeursfirma se fundamentele waardes van etiek en integriteit te herstel en om die maatskappy se geloofwaardigheid te herstel.

Dit volg nadat Trevor Hoole Vrydag sy bedanking ingedien het as uitvoerende hoof van KPMG SA. Steven Louw, hoof bedryfsbeampte en risikobestuursvennoot en vyf ander senior vennote het ook bedank.

KPMG SA sal dissiplinêre stappe doen om Jacques Wessels, hoofvennoot oor die oudits wat vir Gupta-maatskappye verantwoordelik is, uit sy amp te verwyder.

KPMG is veroordeel oor die sogenaamde SAID-verslag waar die maatskappy ondersoek ingestel het oor bewerings van ʼn “rogue”-eenheid wat deur Gordhan ingestel is, toe hy die kommissaris van die SAID was.

Hy het gesê KPMG het nog nie genoeg gedoen nie, en niemand het hom nog gekontak om hom om verskoning te vra nie. “KPMG moes die moed gehad het om te erken, in die lig van hul eie ondersoek, dat die oprigting van hierdie eenheid wel wettig was.

“Die oorentoesiastiese samewerking van senior KPMG-personeel (of hulle nog tans in diens is van KPMG of nie) en hul samewerking met afstootlike karakters in die SAID het direk bygedra tot staatskaping en dit het daartoe gelei dat eerlike persone en bestuurders geviktimiseer is. Dit is belangrik om te noem dat dit daaroor gegaan het om SAID as ʼn instansie aan te val met die hoof doelwit om dit te kaap,” het hy gesê.

“Dit is die simptome van verswakkende vlakke van regering en die erns van staatskaping. Die gevolge hiervan is die negatiewe impak wat dit gehad het op die lewens van almal wat vervolg is en nog steeds vervolg word – as die jongste optrede van die direktoraat van prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) en die Nasionale Vervolgingsgesag in ag geneem word.”

Hy het gesê hy sal regsadvies inwin.

Die SAID het in Desember 2014 KPMG SA aangestel om ʼn omvattende ondersoek te doen oor ʼn sogenaamde “rogue-eenheid” wat glo deur die vorige minister van finansies, Pravin Gordhan, opgestel is. Die ondersoek het gelei tot ʼn “Verslag oor bewerings van onreëlmatighede en wangedrag”.

KPMG het Vrydag gesê die bewyse in die dokumentasie ondersteun nie die interpretasie dat Gordhan geweet het, of moes geweet het, van die “rogue”-aard van die eenheid nie. Die maatskappy het gesê hy erken en het berou oor die impak wat die verslag gehad het, en dat hy “geen politieke motivering gehad het of bedoeling gehad het om te mislei nie”.

KPMG het daarna aangebied om die R23 miljoen wat hy vir die werk vir die SAID ontvang het, terug te betaal, “of om ʼn donasie van dieselfde bedrag aan ʼn liefdadigheidsorganisasie oor te betaal”.

Die maatskappy het ook die verhouding ondersoek wat sy vennote gehad het en die ouditwerk wat hulle vir maatskappye gedoen het wat deur die Gupta-familie besit word, insluitend Linkway Trading, ʼn maatskappy wat geïmpliseer is dat hy miljoene rand uit ʼn Vrystaatse suiwelplaas bekom het om ʼn troue te finansier.

Vier van KPMG se vennote het die luukse Gupta-troue in 2013 by Sun City bygewoon.

Alhoewel KPMG gesê het sy ondersoek oor die verslag het nie enige bewyse gekry van enige onwettige gedrag of korrupsie nie, voldoen die werk wat vir die Gupta-familie gedoen is, nie aan KPMG se standaarde nie en dat die ouditspanne versuim het om ten volle te voldoen aan ouditstandaarde.

Die maatskappy het ook gesê die vennote moes nie die Gupta-troue bygewoon het nie.

KPMG het gesê hy sal die R40 miljoen, wat hy sedert 2002 van Gupta-entiteite ontvang het, skenk aan opvoeding en niewinsgewende teenkorrupsie organisasies.

Sakeleiers verwelkom KPMG-bedankings

SunCity:

KPMG-twitter

Foto: @SADN_Diaspora/Twitter.com

Besigheidsleierskap Suid-Afrika (BLSA) het die leierskapskommeling by die ouditeursfirma KPMG en die maatskappy se bereidwilligheid om beslissend op te tree ná omstredenheid oor oudits en verslae, verwelkom.

Dit volg nadat Trevor Hoole Vrydag as die uitvoerende hoof van KPMG Suid-Afrika bedank het ná ʼn storm oor werk wat die maatskappy vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Gupta-familie gedoen het.

Uitvoerende bedryfshoof en risikobestuurvennoot

Steven Louw en vyf ander senior vennote het ook besluit om die maatskappy te verlaat.

Nhlamu Dlomu, voorheen hoof van mense en verandering by KPMG SA, is gevra om by Hoole oor te neem.

BLSA het in ʼn verklaring die regering versoek om ʼn bladsy uit KPMG se voorbeeld te neem wanneer bewerings van wangedrag hanteer word.

“BLSA verwelkom die bevindings van KPMG se ondersoek en sy bereidwilligheid om beslissend op te tree,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê. “Dis belangrik dat, wanneer ʼn maatskappy van wangedrag beskuldig word, dat hy die regte ding doen. Ons versoek ook die regering om beslissend op te tree wanneer hy van korrupsie of wangedrag beskuldig word.”

Die SAID het in Desember 2014 KPMG SA aangestel om ʼn omvattende ondersoek te doen oor ʼn sogenaamde “rogue-eenheid” wat glo deur die vorige minister van finansies, Pravin Gordhan, opgestel is. Die ondersoek het gelei tot ʼn “Verslag oor bewerings van onreëlmatighede en wangedrag”.

KPMG het Vrydag gesê die bewyse in die dokumentasie ondersteun nie die interpretasie dat Gordhan geweet het, of moes geweet het, van die “rogue”-aard van die eenheid nie. Die maatskappy het gesê hy erken en het berou oor die impak wat die verslag gehad het, en dat hy “geen politieke motivering gehad het of bedoeling gehad het om te mislei nie”.

KPMG het daarna aangebied om die R23 miljoen wat hy vir die werk vir die SAID ontvang het, terug te betaal, “of om ʼn donasie van dieselfde bedrag aan ʼn liefdadigheidsorganisasie oor te betaal”.

Die maatskappy het ook die verhouding ondersoek wat sy vennote gehad het en die ouditwerk wat hulle vir maatskappye gedoen het wat deur die Gupta-familie besit word, insluitend Linkway Trading, ʼn maatskappy wat geïmpliseer is dat hy miljoene rand uit ʼn Vrystaatse suiwelplaas bekom het om ʼn troue te finansier.

Vier van KPMG se vennote het die luukse Gupta-troue in 2013 by Sun City bygewoon.

Alhoewel KPMG gesê het sy ondersoek oor die verslag het nie enige bewyse gekry van enige onwettige gedrag of korrupsie nie, voldoen die werk wat vir die Gupta-familie gedoen is, nie aan KPMG se standaarde nie en dat die ouditspanne versuim het om ten volle te voldoen aan ouditstandaarde.

Die maatskappy het ook gesê die vennote moes nie die Gupta-troue bygewoon het nie.

KPMG het gesê hy sal die R40 miljoen, wat hy sedert 2002 van Gupta-entiteite ontvang het, skenk aan opvoeding en niewinsgewende teenkorrupsie organisasies.

KPMG-bestuurslede bedank oor Guptas

SunCity:

KPMG-twitter

Foto: @SADN_Diaspora/Twitter.com

Trevor Hoole, uitvoerende hoof van KPMG Suid-Afrika, het Vrydag gesê hy en etlike ander senior lede van die ouditeursfirma het bedank.

Die aankondiging volg nadat KPMG Internasionaal die werk wat die firma vir die omstrede Gupta-familie gedoen het, ondersoek het. KPMG het in ʼn verklaring op die maatskappy se webwerf bevestig dat die ondersoek nie enige bewyse van onwettige gedrag of korrupsie deur KPMG se vennote of personeel gelewer het nie, maar wel gevind het dat die werk wat gedoen is nie aan KPMG se standaarde voldoen het nie.

KPMG het die laaste paar maande erg onder skoot gekom nadat die #GuptaLeaks e-posse aangevoer het die firma was die ouditeure van ʼn Gupta-maatskappy wat glo belastingbetalers se geld gebruik het om vir ʼn susterskind se buitensporige troue by Sun City in 2013 te betaal

Hoole het uit die direksie van KPMG en as uitvoerende hoof bedank terwyl Steven Louw as bedryfshoof en risikobestuursvennoot bedank het.

“Ek en Steven het besluit ons uittrede is in die beste belang van die firma terwyl dit herbou en aanbeweeg. Ek verstaan dat die uiteindelike verantwoordelikhede by my lê. KPMG Suid-Afrika is ʼn firma met uiters talentvolle mense en ek glo dit is die regte ding vir my om uit te tree en ʼn nuwe uitvoerende hoof toe te laat om die publiek se vertroue in die firma te herstel en ʼn firma te bou wat weer die hoogste standaarde vir kwaliteit en etiek stel,” het Hoole gesê.

Ahmed Jaffer het ook uit die firma bedank en as voorsitter van die direksie uitgetree.

Die volgende vennote sal ook die firma verlaat:

  • Mike Oddy, hoof van die ouditafdeling en direksielid
  • Muhammad Saloojee, hoof van belasting en direksielid
  • Herman de Beer, voormalige hoof van forensiese ondersoeke en direksielid
  • John Geel, hoof van die adviesraad
  • Mickey Bove, risikobestuursvennoot en transaksieadviseur

KPMG Suid-Afrika het ook besluit om dissiplinêre optrede teen Jacques Wessels, die hoofvennoot wat die ongenoteerde Gupta-sake-entiteite se oudits hanteer het, in te stel met die oog daarop om hom af te dank.

Die ouditeursfirma het ook sy verslag oor die sogenaamde rogue-eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) onttrek. Die firma sal verder ook die R23 miljoen wat hy verdien het om die omstrede verslag oor SAID se sogenaamde rogue-eenheid saam te stel, terugbetaal.

Nhlamu Dlomu is aangestel om die leisels as uitvoerende hoof by die ouditeursfirma oor te neem.

“Dit was ʼn pynlike tydperk en die firma het te kort geskiet aan die standaarde wat ons vir onsself gestel het en wat die publiek van ons verwag het,” het Dlomu in die verklaring gesê.

“Ek wil om verskoning vra aan die publiek, ons mense en kliënte vir die tekortkominge wat hierdie ondersoek uitgewys het.”

KPMG het gesê hy sal die R40 miljoen wat hy verdien het uit die werk wat die firma vir die Gupta-maatskappy gedoen het aan niewinsgewende onderwys- en teenkorrpusie-organisasies oorbetaal.