AfriForum betoog by Pretoria hofverrigtinge teen dubbele standaarde oor rasvoorvalle

AfriForum betoog by Pretoria hofverrigtinge teen dubbele standaarde oor rasvoorvalle

Lede van die burgerregte-organisasie AfriForum het vanoggend buite die Pretoria-Noordse landdroshof teen die dubbele standaarde betoog waarmee rasvoorvalle in Suid-Afrika hanteer word.

Dié dubbele standaarde behels volgens AfriForum dat wit-op-swart-aanvalle deurlopend aan die groot klok gehang word, terwyl swart-op-wit-aanvalle grootliks geïgnoreer word. Die betoging val saam met die verskyning van twee verdagtes wat Carel Kruger aan die begin van Augustus vanjaar in die Montana-omgewing gewelddadig met ’n baksteen aangeval het. Dié aanval het enkele dae ná die KFC-voorval – óók in die Montana-omgewing – plaasgevind.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sowel die aanval op Kruger as ’n ander geval in die Montana-omgewing toe die ongewapende Carine van Staden in ’n padwoedevoorval geskiet is geensins dieselfde openbare aandag en veroordeling as die KFC-voorval ontvang nie. “Ongelukkig bestaan daar dubbele standaarde rakende die hantering van voorvalle waarby ras betrokke is. Wanneer die slagoffer swart en die aanvaller wit is, word die saak aan die groot klok gehang, terwyl sake soos dié van Kruger en Van Staden grootliks geïgnoreer word,” sê Kriel verder.

Kriel wys daarop dat AfriForum alle voorvalle van geweld veroordeel – ongeag die ras van die slagoffer of aanvaller.

“AfriForum het die KFC-voorval soos baie ander instellings veroordeel, maar wag tot vandag toe dat die minister van polisie, die meerderheid van die media en die sogenaamde ‘black twitter’ die Kruger- en Van Staden-aanval met dieselfde ywer veroordeel as waarmee die geval met die KFC-voorval veroordeel is,” voeg Kriel by.

“Vir solank as wat die samelewing onwillig is om alle voorvalle waarby ras betrokke is oor dieselfde kam te skeer, lewer dit geen bydrae tot die verbetering van rasseverhoudinge nie. Inteendeel: dubbele standaarde veroorsaak verdere polarisasie. Daarom sal AfriForum voortaan deurlopend ʼn beroep doen vir die bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe,” sluit Kriel af.


Kleurryke veldtog om stigma te verwyder

Crazy-for-walking-4.jpg

Foto verskaf

[promosie-artikel]

Hoe pak jy ʼn staptog aan van Pretoria na Kaapstad? Die antwoord is heel eenvoudig: “Een tree op ʼn slag.” En die volgende vraag is: “Hoekom sal jy van Pretoria na Kaapstad stap as daar ander opsies is?”

Crazy for Walking is ʼn inisiatief wat van stapel gestuur word om die stigma rakende geestesgesondheid in fokus te plaas. Dus, Crazy for Walking-stappers spring op 1 September weg en beoog om Kaapstad op 10 Oktober, Wêreldgeestesgesondheidsdag, te bereik.

“Die doel is om mense in te lig en op te voed oor geestestoestande, spesifiek depressie en spanningstoestande,” sê Francois Louw, HUB van Vista Kliniek in Pretoria. “Ons gaan tydens die staptog by verskeie dorpe op die roete aangaan waar ons opvoedkundige gesprekke met gemeenskappe gaan fasiliteer, veral oor die wanopvattings rakende geestestoestande. In die gesprekke wil ons mense leiding gee oor waar om hulp te kry, toerus met kennis oor hoe om dit te hanteer en fokus op ons Happiness Helps-program.”

 Crazy-for-walking-3.jpg

Foto verskaf

Die HAPPINESS HELPS-program fokus op die volgende:

H – Help Others (Help ander)

E – Exercise (Oefening, waarvan die stappers oorgenoeg gaan kry)

L – Learn (Leer)

P – Play (Speel)

S – Spiritual Growth (Geestelike groei)

“Ons het gevind die program help om vlakke van stres en spanning te verlaag,” sê dr. Jerrie Bezuidenhout, direkteur van mediese dienste by Vista Kliniek. “Dit is baie prakties en kan deur enige persoon teen ʼn minimale koste beoefen word.”

Die stappers sal van Maandag tot Vrydag elke week, gemiddeld 12 uur per dag, stap en mekaar aflos. Dit beteken dat elke stapper gemiddeld 4 tot 6 uur per dag sal stap.

Die deelnemers word geborg deur hul onderskeie maatskappye en is van oor die land. Hulle sal hoofsaaklik in hul eie omgewing naby hul gemeenskappe stap.

Grazy-for-walking-1.jpg

Foto verskaf

“Daar is tans ʼn heerlike, crazy speelse kompetisie wat tussen die verskillende stapgroepe plaasvind,” sê Hannetjie Buitendag, die spankaptein van die veldtog. “Ons kry terugvoer van die oefenroetines tot foto’s wat wys hoe die verskillende spanne oefen om hulle voor te berei vir die uitdaging.”

Die stappers dra ook kleurryke crazy kouse. Dit is een van die kernelemente van die veldtog. Op 10 Oktober word daar klem gelê op Wêreldgeestesgesondheidsdag. Crazy for Walking moedig mense aan om op dié dag hul malste, skokhelderste kouse te dra en foto’s te neem. Die foto’s moet wyd en syd gedeel word op sosiale media as deel van “Crazy Socks Day”. Die hoofdoel is om klem te lê op geestesgesondheid en die stigma te verwyder wat gepaardgaan met dié tipe siektes of toestande.

Die vordering kan gevolg word op:

Facebook: @CrazyforWalking
Twitter: @CrazyforWalking #crazyforwalking #crazysocksday
Instagram: @crazyforwalking
Webwerf: www.crazyforwalking.co.za

Kry gerus meer inligting by: [email protected]

Maroela Media gaan die wegspringslag op 1 September bywoon, en sal terugvoer gee aangaande die geleentheid.

Nuuskommentaar: ‘Business as usual’ vir president

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS

Ná pres. Jacob Zuma die jongste mosie van wantroue in die parlement oorleef het, het ’n lang rits koerantopskrifte gelui dat dit nou weer “business as usual” vir Zuma is. Tydens sy een en meer as ’n half voltooide termyne as president het dié soort opskrifte egter dikwels gedien as die “reset”-knoppie om te beskryf dat ’n terugslag niks aan Zuma se styl sou verander nie.

Dit beteken ook hy leer nie die regte dinge uit die lesse nie. Hy het verskeie kere gespog dat hy eintlik goed as president vaar, en selfs ook gesê “niemand” sê vir hom wat hy verkeerd doen nie. So asof iemand wat struktureel naby die president in die stelsel van patronaatskap ingebind is, dit kan waag om sy mond oop te maak. Dis die eerste vorm van “business as usual”.

Trouens, ds. David Kuyler van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) skryf vandag in Netwerk24 dat die regering hom aan ’n tronkbende laat dink – ’n bende wat absolute lojaliteit opeis. Kuyler het 30 jaar ondervinding van werk in tronke.

Dit is baie duidelik dat daar heelwat ANC-leiers is wat die konstitusionele hof se uitspraak oor geheime stemming en LP’s se verantwoordelikheid om ooreenkomstig hul gewete te stem wil respekteer. Trouens, die topbestuur het formeel so besluit.

Tog brom Zuma steeds dat die “afvalliges” uitgesnuffel en gestraf moet word. Sy eie (tronkbende) se reëls moet voorrang bo die Grondwet en konstitusionele hof kry.

En dis nog een vorm van “business as usual”.

’n Derde vorm is om die een meesterplan ná die ander uit te rol om die ekonomie weer op dreef te kry, maar dat min of meer niks met die uitrol gebeur nie. “Business as usual” het selfs beteken dat ten minste sekere ministers planne kon beraam en ten uitvoer bring wat die Nasionale Ontwikkelingsplan in die hart skiet, soos min. Davis se verskerpte kontroles oor mikro- en kleinsake-ondernemings wat dié ondernemings burokraties doodsmoor.

Beteken dit dat die land maar doodgerus kan gaan slaap oor “planne” waarin Zuma sentraal staan, soos “radikale ekonomiese transformasie”, die bevegting van “witmonopolie-kapitaal” en die onteiening van grond sonder vergoeding? Dat daar niks hiervan sal kom nie?

Al meer “kandidate” wat aanspraak maak daarop om in Desember as Zuma se opvolger as president van die ANC aangewys te word, maak nou soortgelyke geluide, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma bepleit dit openlik.

Gaan “business as usual” ook “onder nuwe bestuur” beperk bly tot gevaarlike, los bekpraatjies, wat beleggers en graderingsagentskappe baie senuagtig maak, maar tog onuitgevoer in die lug bly hang?

Of gaan Zuma se opvolger erns maak daarvan om van hierdie planne, of planne van sy eie, tot uitvoer te bring? Of het die amptenary wat veronderstel is om die planne en ideale te verwesenlik al so in sy gemaksone van niks doen en stagnasie vasgeval dat dit besonder moeilik is om iets konkreets te laat gebeur?

Trouens, in ʼn stadium was dit “gebruik” van Zuma en sy ministers om nuwe planne aan te kondig as “business as unusual” (saam met “doing things differently”, wat daarop gedui het dat hulle besef het die “usual” beteken dat daar nie uit die wegspringblokke gekom kan word nie. Die “unusual” het egter net so min geslaag, en sedert 2012 is dié “slimmigheid” nie meer so dikwels ingespan nie, want dit het die geneigdheid om te boemerang.

Hoe stagnerend die “business as usual” kan wees, blyk uit ’n artikel van Luoyole Mkentane in IOL op 3 November verlede jaar. Dit klink of hy dit vandag kon neergepen het:

“Embattled President Jacob Zuma appears unfazed as the noose tightens around his scandalous presidency.

“Zuma, who is facing sustained clamour to step down, is leading a delegation of ministers to the inaugural session of the South African-Zimbabwe Bi-National Commission in Harare.

“Political analyst Ralph Mathekga said Zuma was caught between ‘a rock and a hard place because he has to maintain business as usual (approach), appear strong, certain and confident’.”

Vandag, so lyk dit egter, skyn dit asof Zuma ’n tipe gemaksone gevind het tussen die duiwel en die diep blou see – kritiek en druk op Zuma wat ander sou laat knak, is soos water van die eend se rug.

Bittereinders en verraaiers

NP-van-Wyk-Louw

NP van Wyk Louw. Foto: Af.wikipedia.org

Willie Jansen van Rensburg van Moreleta Village skryf:

In die drama Die pluimsaad waai ver van NP van Wyk-Louw kom die verwysing na die bittereinders en die verraaiers dikwels voor. President Steyn en generaal Christiaan De Wet is die helde wat bereid is om tot die bitter einde die stryd voort te sit. Daarteenoor staan generaal Piet de Wet bekend as een van die verraaiers, nadat die Engelse onder meer die hoofstede ingeneem het.

Generaals Piet de Wet en Marthinus Prinsloo het nie die sinvolheid van voortgesette militêre stryd ingesien nie. Reeds teen die einde van Junie 1900 was die hoofstede van die Boererepublieke ingeneem en was die Britte in beheer van die totale infrastruktuur en administrasies.

Terugskouend ontstaan die vraag of die volksleiers met wysheid opgetree het deur burgers te beveel om voort te veg. Indien die leiers teen Julie 1900 bes gegee het, sou die sterftesyfer veel laer gewees het. Sou ’n staatsman met wye visie ingesien het dat tydige oorgawe die geleentheid tot redding van ’n volk en heropbou bied? Nie net heropbou van die fisieke nie, maar ook die geestelike en kulturele sy. Geen plase sou vernietig word nie en weinig burgers sou in krygsgevangenekampe beland.

Dit blyk dus dat die twee gawes van heldhaftigheid en insig nie noodwendig in een mens gesetel is nie. ’n Bittereinder is dalk nie ’n kritiese denker nie, terwyl kritiese denkers dikwels gebrandmerk word as verraaiers.

Die toewyding en geloof van presidente Kruger en Steyn en die heldhaftigheid van generaals Christiaan de Wet en Koos de La Rey word nie bevraagteken nie. Hul bydrae tot ons volkwees is kosbaar.

Van Wyk-Louw vergelyk egter die bittereinders met koppiges, en enkele verraaiers met verstandiges. Heeltemal futiel, maar sake in die land sou ná tydige oorgawe heeltemal anders gelyk het.

Hou die verloop van die Tweede Vryheidsoorlog en ons volk se geskiedenis vandag vir ons lesse in? Net soos ons ’n taalstryd aan die begin van die 20ste eeu gehad het, woed daar nou ook ’n stryd om die behoud van Afrikaans. Dieselfde gebeur met die onderwys van ons volk. Daar word ook ’n stryd gevoer op ekonomiese, arbeids- en ander terreine. Afrikaners moet hulself op elke lewensterrein verdedig.

Tans poog talle organisasies en groepe om op terreine soos politiek (Vryheidsfront Plus HNP, AVP, Front Nasionaal, VVK), arbeid (Solidariteit), landbou (AGRI SA, TLUSA) kultuur (FAK, Verkenners, Aksie Vrouekrag, Dames Aktueel, Orania Beweging, Pretoria FM), onderwys (AROS, BCVO) vir Afrikaners op te tree sonder om andere te benadeel.

Sommige maak gebruik van die ruimte wat die wetgewing en die grondwet ons bied. Hulle wend hulle na instellings van die owerheid soos die Nasionale Vergadering, openbare beskermer en die howe om vir Afrikaners op te tree. Hoewel nie altyd opspraakwekkend nie, word nieteenstaande teenstand, tog suksesse behaal, sonder prysgawe van geloof en taal.

Tog word sekere organisasies deur sommige Afrikaners as verraaiers bestempel.

Enkele organisasies wil niks met die huidige owerheid te doen hê nie. Hulle sien hulself as bittereinders, vermy diegene wat van die wetlike ruimte gebruik maak en beskou diegene wat owerheidsmiddele gebruik as vyande en verraaiers.

Etlike vrae kan hieruit voortspruit:

Watter hedendaagse organisasies het iets geleer uit die verloop van die Tweede Vryheidsoorlog en ons geskiedenis daarna?

Wie volg vandag die leiding van onderskeidelik Christiaan of Piet de Wet?

Is ’n bittereinder net koppig en is sommige verraaiers verstandig?

Wie is vandag die koppiges en die verstandiges?

Dit behoort tog duidelik te wees dat jy niks vir jou volk kan doen deur asketies te wees en jouself in ’n kasteel af te sonder nie. Sedert die bestaan vanaf die Boere-republieke tot vandag het koppigheid geen voordeel vir die Afrikaner meegebring nie – slegs hartseer, lewensverlies en armoede. Ons hoef nie onderling te veg nie. Gee ruimte aan mekaar en gee krediet vir suksesse wat behaal word. Die Afrikaner het wysheid en insig nodig.

AfriForum se 9-punt-plan vir Buurtwag-stigting

afriforum-kempton-park

Lede van die AfriForum-buurtwag in Kempton Park saam met polisiebeamptes tydens ‘n aksie waar ‘n voertuig opgespoor is. Foto: Verskaf

Deur Hein Gonzales

Die Grondwet, wetgewing en regspraak gee jou as ’n wetsgehoorsame burger die reg om jouself en jou familie te beskerm binne die raamwerk van die wet. Wat beteken dit in die praktyk? Daar is heelwat onsekerheid oor die stig van buurtwagte en die status van hierdie strukture. Kragtens wetgewing en gevestigde praktyk is jy geregtig om ʼn buurtwag in jou gemeenskap te stig. Hierdie entiteit is nie onderhewig aan ander sekuriteitmaatskappye en/of gemeenskapspolisiëringsforums nie, maar moet verkieslik in samewerking met die SAPS gedoen word. Hierdie buurtwagte het die verpligting om te verseker dat hulle binne die raamwerk van die Grondwet en wetgewing optree.

Verhoudinge bou en samewerking met ander entiteite soos die SAPS, GPF en/of ander entiteite, is baie belangrik, maar wel sonder om jou identiteit prys te gee. Die uitkoms is ’n veilige Suid-Afrika vir al die gemeenskappe wat in die land woon. Misdaad is nie selektief as dit kom by ras, geslag, kultuur, taal, herkoms of politieke affiliasie nie. Misdaad is dus a-polities van aard. Laasgenoemde plaas ʼn morele verpligting op ons as landsburgers om aksie te neem teen misdaad. Hoe begin ek?

Jou 9-punt-plan

Voorbeeld: Koos is woonagtig in Waterkloof. Die afgelope paar weke was daar verskeie inbrake in die omgewing. Die polisie sukkel om hierdie probleem hok te slaan weens ʼn tekort aan patrollievoertuie en personeel. Koos besluit om ’n buurtwag te stig.

  1. Die eerste stap in hierdie proses sal wees om ʼn gemeenskapsvergadering te reël waar al die betrokke rolspelers van die buurt teenwoordig is. Tydens hierdie vergadering word die konsep van ʼn buurtwag bespreek deur die rolspelers. Die besluit van die vergadering is om die proses vir die stigting van ʼn buurtwag te begin, wat nou? Op hierdie vergadering moet ʼn projekkoördineerder en taakspan deur die rolspelers verkies word om die proses te stuur. In hierdie stadium moet daar ʼn algemene waardering by wyse van ʼn AfriForum-veiligheidsvraelys gedoen word om die behoefte van die gemeenskap te bepaal. Laasgenoemde kan verkry word op navraag by [email protected].
  2. Die tweede stap is vir Koos om die AfriForum-hoofkantoor in Pretoria te kontak ten einde die besonderhede van die koördineerder in sy gebied te kry. Koos maak direk kontak met die koördineerder om ’n AfriForum-inligtingsessie te kom aanbied vir die gemeenskap. Tydens hierdie vergadering sal die AfriForum-verteenwoordiger ’n voorlegging maak oor die dienste en ondersteuning wat AfriForum bied.
  3. Ná afloop van die inligtingsessie kan die gemeenskap besluit om onmiddellik te begin met die stig van ʼn buurtwag. Die AfriForum-verteenwoordiger sal die nodige dokumentasie by hom hê wat benodig word vir die stigting. Indien daar nog nie ʼn tak gestig is nie, sal dit eers die betrokke aand gestig moet word.
  4. Ná die ondertekening en invul van al die takbestuurvorms, AfriForum-grondwet en gedragskodes, sal die struktuur formeel gestig wees met betrokke bestuurslede en sektorleiers. Laasgenoemde is ’n oudit-voorvereiste. Dit sal die buurtwagvoorsitter se verantwoordelikheid wees, in samewerking met die AfriForum-koördineerder, om te verseker dat die struktuur effektief funksioneer.
  5. Ná die stigting kan die voorsitter reël met die betrokke AfriForum-koördineerder vir opleiding vir die struktuur wat onder meer insluit patrollie-opleiding, radio-opleiding, noodhulpopleiding, insidentbeheer, selfverdedigingsklasse, teenverkragtingsklasse, reaksiespanopleiding en nog vele meer. Indien daar ’n bepaalde behoefte vir opleiding is, sal AfriForum-hoofkantoor reël met konsultante vir die opleiding.
  6. Die buurtwag moet begin met die beplanning en uitrol van infrastruktuur soos byvoorbeeld ʼn radionetwerk, glimbaadjies, voertuigmagnete en/of die vestiging van ʼn GOS (gesamentlike operasionele sentrum). Uitgawes in hierdie verband kan uit die betrokke takfondse betaal word, onderhewig aan die beskikbaarheid van sulke fondse.
  7. Identifiseer rolspelers in die gemeenskap en sluit samewerkende ooreenkomste met hulle, soos byvoorbeeld SAPS en GPF.
  8. Reël so gou moontlik ’n gesamentlike massapatrollie in jou buurt. Stel ʼn behoorlike operasionele plan saam en betrek rolspelers soos byvoorbeeld SAPS, die metropolisie, GPF, sekuriteitmaatskappye en ander private buurtwagte om deel te neem. Dit is altyd wys om die samewerking van die plaaslike SAPS te kry vir die projek. Reël ʼn vergadering met die stasiebevelvoerder en gaan verduidelik vir hom die operasionele plan. AfriForum-hoofkantoor sal die buurtwag hiermee help en die proses fasiliteer.
  9. Verseker dat die struktuur volhoubaar en op gereelde basis patrollie ry.

Dit is essensieel om te verseker dat jou buurtwag altyd binne die raamwerk van die wet en die Grondwet optree. AfriForum-hoofkantoor bied aan sy strukture strafregtelike regsbystand en buurtwagversekering, maar slegs in gevalle waar dit ’n betalende AfriForum-lid is en waar hy wel binne die raamwerk van die wet opgetree het.

Die onlangse gebeure in Coligny is ’n duidelike voorbeeld van wat kan gebeur indien ’n gemeenskap nie pro-aktief organiseer en strukture bou nie. Ons befonds die oplossing, nie die probleem nie!

  • Hein Gonzales is risiko- en ondersteuningbestuurder by die burgerregte-organisasie AfriForum se afdeling vir gemeenskapveiligheid.

Vuurwapenlisensies: Saak na konstitusionele hof

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se appèl teen die Pretoriase hooggeregshof se uitspraak oor die hernuwing van vuurwapenlisensies sal op 8 Februarie 2018 in die konstitusionele hof aangehoor word.

Dit volg nadat die SAPD in Julie gesê het hy beplan om ʼn aansoek om verlof tot appèl teen die hofuitspraak in te dien.

Die hooggeregshof in Pretoria het in Julie verklaar dat twee artikels (artikel 24 en 28) van die Vuurwapenbeheerwet ongrondwetlik is en dat alle vuurwapenlisensies wat verval het of binnekort verval, geldig sal wees totdat die konstitusionele hof die betrokke artikels hersien het. Die parlement is ook 18 maande gegun om die wet te wysig om aan grondwetlike beginsels te voldoen.

Die aansoek om die twee artikels ongrondwetlik te laat verklaar, is deur die Suid-Afrikaanse Jagters-en-Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) ingedien. Die hof het ook ʼn kostebevel ten gunste van SA Jagters uitgereik.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, het Donderdag in ʼn verklaring gesê die vereniging is bly dat die konstitusionele hof die saak in ʼn relatiewe kort tydperk sal aanhoor, aangesien dit die dringendheid van die kwessie bevestig. “Die hooggeregshof se uitspraak op 4 Julie was ʼn reuse-oorwinning vir alle wettige vuurwapeneienaars. Ons is versigtig optimisties dat die konstitusionele hof in ons guns sal beslis,” het hy gesê.

Camphor het vuurwapeneienaars weereens herinner om verantwoordelik en binne die perke van die Vuurwapenbeheerwet op te tree wanneer daar om nuwe of die hernuwing van vuurwapenlisensies aansoek gedoen word. “Die status quo wat die verpligtinge van die wet betref, het nie verander sedert die uitspraak van 4 Julie nie. Alvorens die konstitusionele hof andersins beslis, het niks verander weens die SAPD se appèl nie,” het hy gesê.

Hy het vuurwapeneienaars gemaan om betyds om die hernuwing van vuurwapenlisensies aansoek te doen voordat die lisensie verval. Camphor het gesê indien ʼn eienaar reeds sy of haar vuurwapen by die polisie ingehandig het, moet hulle die bewys daarvan veilig bewaar. “Moenie die polisie vra om jou vuurwapen terug te gee nie. Hulle sal dit nie doen nie,” het hy gesê.

“Indien jy in die besit van ʼn vuurwapen is waarvan die lisensie reeds verval het, hou dit toegesluit in jou kluis.”

Aanlyn speletjie wil jeug aan die dink kry oor politiek

ecivix-daniel-du-plessis-hs-waterkloof

Daniel du Plessis spreek leerder van Hoërskool Waterkloof in Pretoria toe oor eCivix, ‘n gratis aanlyn verkiesingspeletjie, SA se verkiesingstelsel en die grondwet. Foto: eCivix/Facebook.

Navorsers reken net sowat die helfte van Suid-Afrika se jeug tussen die ouderdom van 18 en 29 wat geregistreerde kiesers is, het wel in die vorige drie verkiesings in 2011, 2014 en 2016 uiteindelik ʼn kruisie gaan trek.

Die Instituut vir Sekerheidstudies het kort voor verlede jaar se munisipale verkiesing ʼn verslag bekendgemaak wat toon dat die Suid-Afrikaanse jeug nie noodwendig apaties is nie, maar eintlik eerder ontnugter is deur die land se huidige politieke landskap. Hulle voel dikwels dat verkiesings nie die beste manier is om verandering teweeg te bring nie en dat dit politiek korrup is en net oor selfverryking gaan.

ʼn Groep studente van die Universiteit van Pretoria het egter koppe bymekaar gesit in ʼn poging om die jeug se siening oor politiek te verander. Die studente is tans besig om ʼn gratis aanlyn verkiesingspeletjie te ontwikkel, wat beoog om politiek nie net pret en interessant te maak vir die jeug nie, maar ook die uitwerking van beleidgebaseerde politiek onder die aandag van spelers te bring. Boonop is die speletjie ook eg Suid-Afrikaans.

“Politiek gaan eintlik maar oor die voorstel en inwerkingstelling van beleidsrigtings en natuurlik is dit belangrik vir ʼn party om sy spesifieke beleid aan die breër bevolking te bemark.

“So, omdat jy in hierdie speletjie jou eie verkiesingsveldtog moet bestuur, moet jy ook besluit wat presies jou party gaan sê,” verduidelik Daniel du Plessis, een van die ontwikkelaars van eCivix.

ʼn Speler kan tien van ʼn stel beleidsrigtings kies en dan besluit wat sy of haar posisie ten opsigte van hierdie beleid is – van min of meer streng konserwatief tot baie liberaal.

Die speletjie gebruik egte data van Suid-Afrika se samestelling om te bepaal hoe waarskynlik dit is dat die speler se partybeleidstellings kan werk en hoeveel moeite hulle byvoorbeeld sal moet doen om dit te bemark.

“Dit is ongelukkig so dat Suid-Afrikaners meestal hulle stemme uitbring gebaseer op die geskiedenis van ʼn politieke party, en meestal langs kleurgrens stem. Ons hoop om met eCivix nie net burgerlike betrokkenheid te bevorder nie, maar ook die jeug se grondwetlike kennis te verdiep en te verbeter wanneer hulle die speletjie speel,” het Du Plessis verduidelik.

Die studente hoop hulle kry veral die jeug aan die dink oor partye se beleidsrigtings en hoe hulle as stemgeregtigdes daaroor voel, asook wat hulle glo die uitwerking van die beleidsrigting vir die land se mense en toekoms sal wees.

“Die hele projek word deur onsself, sonder enige winsmotief, gedryf. Dit is bloot ʼn handjievol studente wat hulle liefde vir politiek en tegnologie wil gebruik om ons demokrasie te verdiep,” het Daniël Eloff, wat ook betrokke is by die projek, gesê.

Du Plessis hoop die speletjie sal ook help om kiesers te motiveer om politici nie net aanspreeklik te hou vir wat hulle doen nie, maar die soort beleidsrigting wat hulle voorstaan. “Ons sit in Suid-Afrika in die volgende posisie: As ʼn politikus sy werk doen, ongeag wat sy beleid is, is ons maar min of meer tevrede daarmee. Waarop dit eintlik moet neerkom, is dat ons na ʼn plek moet beweeg waar ons meer oplet na die beleid en rol van die party in die politiek self. Politici moenie kan wegkom deur gonswoorde rond te gooi om kiesers te werf nie, hulle moet wesenlike antwoorde vir Suid-Afrika se kernprobleme kan bied.

“Omdat spelers in eCivix hulle eie kernbeleidsrigting moet kies, wil ons hulle daarvan bewus maak wanneer ʼn politieke party eintlik besig is om die kiesers te mislei.”

Die speletjie sal na verwagting in September beskikbaar gestel word. Die studente beplan ook om verskeie gratis werksessies by skole aan te bied waar hulle die Suid-Afrikaanse verskiesingstelsel aan leerders wil verduidelik en grondwetlike regte bespreek.

  • Vir meer inligting besoek eCivix se Facebook-blad.
  • Luister gerus ook na Esté Meyer Jansen se gesprek met Daniël Eloff en Daniel du Plessis, twee van die ontwikkelaars van die aanlyn verkiesingspeletjie eCivix. Hulle verduidelik presies hoe die speletjie werk en wat hulle graag daarmee wil bereik.



Plastiekpaaie die alternatief vir teerpaaie of ’n teer saak?

teerpad-pad-paaie-platteland

Kan plastiekpaaie dalk antwoorde bied op van die vraagstukke wat SA teister? Foto: Nextvoyage/Pexels.com

Deur Jeannette Gnade

’n Voorstel deur die Demokratiese Alliansie in die Oos-Kaap dat ’n loodsprojek begin moet word om die lewensvatbaarheid van plastiekpaaie te toets, is luidkeels deur die ANC afgeskiet. Lede van die land se regerende party kan net nie insien dat daar ’n toekoms bestaan vir paaie wat van herwinbare plastiek gemaak word nie.

Die Oos-Kaap se agterstand in padinfrastruktuur beloop meer as 100 miljard rand en daar is nie genoeg geld in die provinsiale koffers nie. ’n DA-beheerde munisipaliteit in Gauteng het hom intussen bereid verklaar om ’n stuk pad uit plastiek te vervaardig as ’n toetsprojek vir ’n skoner omgewing, die langer lewensduur van paaie en les bes geen slaggate nie.

Plastiekpaaie word reeds in Indië, Nederland en ander plekke in Europa gebruik, en Brittanje toon groot belangstelling vir die tegnologie.

Teer is afkomstig van ru-olie en is dus nie omgewingsvriendelik nie. Asfalt of teer is verantwoordelik vir twee persent van die wêreld se koolstofvrystellings. Dit is ook moeilik om teerpaaie te herstel omdat die teermengsel bo-op, asook die betonlaag daaronder, opgekap moet word en tot groot verkeersontwrigting lei.

Plastiekpaaie word so gebou dat dit ineenskakel en kan stuk-stuk teen minder tyd en koste vervang word. Tog is dié paaie se lewensduur drie keer langer as dié van teerpaaie. Plastiek het verskeie chemiese en fisiese eienskappe en kan gebruik word om paaie meer weerbaar teen uiterste weerstoestande te maak.

’n Nederlandse maatskappy het ’n model voorgestel waarvolgens plastiekpaaie met ʼn spasie binne-in gebou word waar waterpype en elektriese verbindings aangebring kan word. Die oop ruimte kan ook gebruik word vir natuurlike verhitting, wat keer dat paaie toesneeu of sal help dat reënwater vinniger opdroog. Herstelwerk aan die krag- en waterinfrastruktuur in die oop spasies kan vinnig gedoen word omdat net ’n stukkie van die pad verwyder moet word.

’n Belangrike oorweging om van teer na plastiek oor te slaan is die tonne plastiek wat by stortingsterreine beland en vir opvulling gebruik kan word. Dikwels lek besoedelingstowwe in die omliggende grond terwyl plastiekverbranding kan lei tot die vrystelling van kweekhuisgasse soos koolstofdioksied. Mikroplastiese afval is ook besig om die oseane te besoedel.

Modulêre plastiek is makliker om mee te werk as teer. Selfs paaie wat gebou word met ʼn mengsel van plastiek én teer, absorbeer nie water nie, is meer buigsaam, daar ontstaan minder groewe daarin en minder herstelwerk is nodig. Padoppervlaktes is gelyker en aborbeer klank beter.

Ongeveer een miljoen plastieksakke is nodig om ’n stuk plastiekpad van een kilometer te bou, en die boutempo is 70 persent vinniger as die aanlê van ’n teerpad. Is dit nie tyd om kreatief te dink nie?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

[Video] ‘Kaleidoskoop’ vier die lente

 Kaleidoskoop_2.jpg

Kaleidoskoop

[promosie-artikel]

ʼn Kaleidoskoop is ʼn outydse speelding wat mooi patrone en kleure maak sodra jy dit op ʼn ligbron rig en daardeur kyk.

Dit is ook die naam van een van ons land se talentvolste groepe. “Ons vind inspirasie deur ons oë op Jesus – óns ligbron – te rig. Só hoop ons om ons positiewe, kleurvolle uitkyk op die lewe, liefde en menswees in ons musiek en lirieke te weerspieël – ‘n broodnodige boodskap van hoop,” sê Anique en Jouba van Kaleidsoskoop.

Kaleidoskoop is ‘n Afrikaanse musiekgroep wat hul musiek uit ’n positiewe, dog realistiese oogpunt komponeer. Met kleurryke harmonieë en ‘n verskeidenheid van akoestiese instrumente neem Kaleidoskoop ’n hele spektrum van musiekvorme aan. Hulle laat jou deur hul musiek anders na die kleure van die lewe, liefde en menswees kyk.

Die groep het ook al verskeie albums die lig laat sien. Hulle nuutste album, Gunsteling Seisoen, is Maart bekendgestel en die snit “Webreek” (musiekvideo onderaan die artikel) het op verskeie trefferparades gepryk.

Kom vier fees saam met Kaleidoskoop by die Lente-vertoning op 1 September 2017

Kom vier LENTEDAG saam met Kaleidoskoop en hul volle 12-stuk-orkes by Lewende Woord se ouditorium in Brummeria! Oudergewoonte sal daar ‘n magiese atmosfeer geskep word met baie liggies en vlaggies. Terselfdertyd sal jou ore bederf word met die akoestiese klanke van kitaar, klavier, mandolien, banjo, ukuleles, trekklavier, perkussie, viole en saksofone asook die strelende harmonieë van hul stemme. Bring die hele gesin en kom geniet allerhande lekkernye soos wafels, roomys, worsrolletjies, melkskommels en goeie koffie vanaf 18:30! Odette Will het selfs aangebied om die dames se hare op te dollie voordat hulle die fotohoekie betree, waar almal ook die aand hul “vintage” lentedagklere kan vasvang.

Vir meer inligting besoek gerus Kaleidoskoop se webblad.

Kaleidoskoop is ook te sien by Maroela Media se Buitebioskoop op 16 September.

[This post contains video, click to play]

Op reis deur Europa: Pont Max

Pont Max (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons staan voor die reusagtige St Petruskatedraal in Rome. Op die plein stap honderde besoekers rond. Toergroepe loop soos skape agter hulle toerleiers aan. Rondom ons staan 285 reuse marmerkolomme vier-vier langs mekaar in ‘n semi-sirkel.

Bo-op die kolomme se dak staan 56 beelde van heiliges wat stilswyend toekyk. Voor die kerk is twee reusebeelde van die apostels Petrus en Paulus.

Agter hulle, bo-op die katedraal se dak, in ‘n ry, is beelde van Christus, die apostels en Johannes die Doper wat goedkeurend toekyk. Deur die eeue was dit een van die Katolieke Kerk se boustene: “Beelde is die boeke vir die leke.”

Die St Petruskatedraal is gebou deur en tot ere van Pontifex Maximus (pous) Paulus die Vyfde. Voor op die kerk staan in reuse Latynse letters dat hy die prins van die apostels, ‘n Romein en die hoof Pontifex is.

Binne die kerk, wat jou oorweldig deur sy grootte en massiewe beelde van apostels, pouse en heiliges, staan in sewe voet groot letters onder die indrukwekkende koepel van Michelangelo, dat die Pontifex die verpersoonliking van die apostel Petrus is. Hy is die middelpunt van al die glorie, die goud, die kunswerke en versierings, die gekruisigde Jesus, die opgestane Maria en al die heiliges wat hier begrawe is en vereer word.

In antieke Rome was die “Pontifex Maximus” die hoof van ‘n groep heidense priesters genoem “pontifices”. Hulle was toesighouers oor die heidense priesters wat in die tempels die Romeinse afgode, Jupiter en sy vrou Juno, Neptunus, Mars, Venus, Minerva en vele ander, gedien het. In die tempels is beelde vir die afgode opgerig en het die priesters elke dag vir hulle offers gebring.

Pont Max (Foto: Thomas Dreyer)

Met die Edik van Milaan in 313 n.C. het Keiser Konstantyn die Christelike godsdiens gewettig na eeue van vervolging. Skielik was dit voordelig om ‘n Christen te wees en het die heidense priesters ‘n Christelike kruis op hulle kleed vasgewerk. In die tempels het hulle die heidense beelde vervang met Christelike beelde. Partykeer het hulle sommer net die beeld se naam verander.

Tempels het “kerke” geword. Die “Pontifex Maximus” het die pous geword en die “pontifices” die kardinale. Vir sy kerklike gesag en posisie het die Pontifex Maximus bloot verklaar dat Petrus die eerste Pont Max in Rome was en dat hy Petrus se opvolger is.

Die heidense offers het hulle met die “mass” vervang. Die Pont Max en die “pontifices” het bloot verklaar dat die brood en wyn met die nagmaal werklik in Jesus se liggaam en bloed verander. Soos in antieke Rome bring die priesters elke dag offers in die tempels met die rituele “mass”.

Stap jy die St Petruskatedraal, of enige ander Roomse kerk in, is jy omring deur Christelike beelde en reusagtige skilderye, die “boeke vir die leke”. Die boodskap is orals dieselfde: die pous is Pont Max, Jesus is gekruisig en Maria lewe.

Jesus word oorheersend uitgebeeld as ‘n klein babatjie, die gekruisigde of dooie op sy ma se skoot. Maria is die pragtige, jong, lewende, opgestane moeder en gekroonde in die hemel. In 1854 verklaar die Pont Max dat Maria sondeloos gebore is en in 1950 dat sy na die hemel opgevaar het.

Heiliges, vernames en rykes uit die kerk se geskiedenis word dikwels saam met Maria uitgebeeld. Of by die kruisiging van Jesus. Of dat hulle by was toe Maria opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel waar sy deur Jesus gekroon is. Jupiter se Juno.

Daagliks stap leke wêreldwyd by hierdie tempels in en gaan bid by die beelde en grafte van die heiliges, vernames, en rykes. Hulle raak daaraan, kniel daarvoor en bring “offerte”.

En hulle sien en verstaan die boodskap wat indrukwekkend en oorweldigend gebring word baie duidelik: die pous is Pont Max, Jesus is gekruisig en Maria lewe.

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.