Jong Pretoria verliefdes sterf saam in motorfiets ongeluk

Twee mense is dood en twee kritiek beseer toe ʼn motorfiets en ʼn Opel Kadett Saterdag in die vroeë oggendure in Pretoria gebots het.

Xander Loubser, woordvoerder van Best Care-ambulansdienste, het Saterdag aan Maroela Media gesê die botsing het in Mootstraat in Daspoort in die weste van die stad plaasgevind.

“Die oorsaak van die ongeluk is onbekend en word deur die polisie ondersoek. Twee mense wat op die motorfiets was, is op die toneel dood,” het Loubser gesê. Loubser kon nie dadelik hul ouderdomme bevestig nie, maar het wel gesê dat hulle ʼn jong man en vrou was.

Loubser het gesê twee insittendes in die Opel het kritieke beserings opgedoen en hulle was in die voertuig vasgekeer. Hulle is na die Steve Biko-hospitaal geneem nadat hulle uit die motor se wrak gesny is.

“ʼn Vrou, vermoedelik die bestuurder van die motor se ma is, het op die toneel inmekaargesak. Sy is ook na die hospitaal geneem aangesien sy beseer is toe sy geval het.”

Loubser het die brandweer en ander nooddienste vir hul bystand bedank. Hy het ook sy innige meegevoel met die oorledenes betuig.

Loubser en die plaaslike DA-raadslid, Elma Nel, het in ʼn video ʼn beroep op inwoners en motoriste gedoen om padreëls ten alle tye te gehoorsaam.

“Daar is veral probleme met motoriste wat te vinnig ry. Inwoners word aangemoedig om probleemgebiede aan ons uit te wys sodat daar byvoorbeeld plan gemaak kan word om spoedhobbels op te sit, of die hobbels wat vervalle is, oor te bou,” het Nel gesê.

Zanelle Grandly, een van die slagoffers se susters, het intussen die dood van haar suster op haar Facebook-blad bevestig.

“Ons wil graag ons familie en vriende wat naby en ver is laat weet dat my sussie, Lezette de Beer, vanoggend saam met Zhaan Smit dood is. Ons sal hulle geweldig mis en geen woord kan die groot verlies wat ons voel verduidelik nie. Ek sal altyd vir jou lief wees en jou nalatenskap lewendig hou,” het sy gesê.

Ria Nieudoudt, Zhaan se suster, het in ‘n huldeblyk aan hom geskryf: “My boetie jy is my lewe elke dag gewees hoe gaan ek sonder jou lewe. Blondie jy was deel van ons lewens. Ry die golden highway RIP.”

Lezette se laaste inskrywing op Facebook was Vrydag aan Zhaan gerig: “I have found my happy ever after, love you vrek mal my lief”.

 

[Video] 4-jarige steel harte met volkslied

Klein Willem (Foto: ‘n Skermskoot uit die video)

ʼn Video van ʼn vierjarige seuntjie van Pretoria wat die Suid-Afrikaanse volkslied passievol sing, verower harte landwyd.

Carmen Minnaar, die jong Willem se ma, het aan Maroela Media vertel hy is nog altyd passievol oor rugby, en het onlangs ʼn YouTube-video gekyk waar die Springbokke dié liedjie voor hul wedstryd gesing het.

“Sy sussie moes ook onlangs die volkslied vir skool leer, daarom het ek die liedjie toe op iTunes afgelaai en op my selfoon gestoor sodat sy dit gereeld kon hoor. Hy het die liedjie op my selfoon hoor speel, en dit toe ook sommer self geleer,” vertel sy.

Minnaar sê sy en haar man het ʼn tydjie gelede ʼn rugbywedstryd tussen die Stormers en die Bulle gaan kyk en toe vir hom ʼn rugby-hempie ook gekoop.

“Hy wil nou glad nie enigiets anders dra nie,” lag sy. “Ons het intussen vir hom ʼn Bulle- én Springbokhemp ook gekoop sodat hy net vir ʼn slag ʼn ander hempie kan dra.”

Sy sê Willem is sedert ʼn baie jong ouderdom lief vir musiek. “Ek weet egter nie wat sy fassinasie met die volkslied is nie – dalk vind dit aanklank by hom. Dalk is dit omdat hy die Bokke die liedjie voor hul wedstryd sien sing het. Hy is net gaande daaroor.”

Buiten die volkslied, luister hy ook graag na die Afrikaanse sanger Jo Black. Minnaar sê hy het dié album al byna van begin tot einde geleer.

Johann Botha: Beskuldigdes in hof

Johann Botha. Foto: Maroela Media

Die twee mans en ’n vrou wat daarvan beskuldig word dat hulle die televisie- en radiopersoonlikheid Johann Botha en ’n vriend van hom vermoor het, het Vrydag in die Johannesburg-landdroshof verskyn.

Volgens die staatsaanklaer, Colleen Ryan, is selfoonrekords en foto’s van die nadoodse ondersoeke  steeds uitstaande. Thembi Mbatha (19)‚ Nkosiyazi Phungula (27) en Ntobeko Hlatshwayo (32) staan tereg op aanklagte van moord, gewapende roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die drie is glo op kringtelevisiebeeldmateriaal betrap waar hulle die misdaad pleeg en met ʼn groot hoeveelheid geld van die toneel vlug.

Botha en sy goeie vriend, Werner “Swazi” Perchtold (76), die eienaar van die Zebra Inn-restaurant in Jeppestown, Johannesburg, het in Junie in die restaurant gekuier waar hulle doodgeskiet is. Dié restaurant was een van Botha se gunstelingkuierplekke. Hy en Swazi het sowat ʼn jaar gelede ʼn skaakklub in die Zebra Inn begin en mense uit alle agtergronde byeengebring om Dinsdagaande skaak te speel.

Vier verdagtes, drie mans en ʼn vrou, het omstreeks 19:20 by die restaurant ingestap en iets bestel om te drink. ʼn Ruk later het van die verdagtes vuurwapens uitgepluk en Botha en Swazi koelbloedig voor omstanders doodgeskiet. Die rowers het met ʼn onbekende bedrag geld en twee vuurwapens van die toneel gevlug.

Botha, ʼn bekende in bewaringskringe en die voormalige uitvoerende regisseur van die natuurprogram 50/50, was sedert begin vanjaar die aanbieder van Pretoria FM se Sondagaandprogram Nagmusiek.

Landdros Lucas van der Schyff het die saak tot 12 September uitgestel om die polisie kans te gee om hul ondersoek te finaliseer.

Die beskuldigdes bly in aanhouding.

GauFestival sorg vir volop Afrikaanse vermaak

Foto: Verskaf

Die GauFestival wat van 29 September tot 5 Oktober in Pretoria plaasvind, sal ʼn string produksies ten toon stel, waarvan baie Afrikaans is.

Van die produksies waarna besoekers kan uitsien, is Poppemeester, wat geïnspireer is deur Ingrid Jonker, ʼn Karen Zoid-vertoning en Manie Jackson in duet met Country Legends. Daar is ook ʼn kinderproduksie, Jakkals en die Wolf, en die sogenaamde Bome is lewe-produksie om boomplantmaand in September te vier.

Die produksies sal in onder meer die Atterbury en Brooklyn-teaters te sien wees. Vir die volle program, volg gerus hierdie skakel: http://gaufestival.com/calendar/.

ʼn Proeflopie van die GauFestival is in 2016 begin om al die uiteenlopende kunste in Pretoria byeen te bring. Dit wil nie net bewusmaking van kuns in die gemeenskap skep nie, maar ook ʼn platform vir opkomende en bestaande kunstenaars in die metro.

Dit is vanjaar die eerste amptelike jaar van dié fees, en met sulke opwindende produksies en ʼn vol program sal daar beslis iets vir almal wees.

Vir meer inligting oor die GauFestival, besoek gerus die webwerf hier: http://gaufestival.com/

Salomo se wysheid nodig vir godsdiens in skole

Argieffoto: Don Mcphee/Guardian

Die onlangse besluit van ses openbare skole om nie teen die uitspraak oor godsdiens in skole te appelleer nie, het opnuut vrae laat ontstaan oor hoe dié praktyke in die toekoms in skole gaan uitspeel nadat talle ander skole sedertdien dreigbriewe van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie gekry het.

Die hof het vroeër beslis openbare skole kan steeds voortgaan met godsdiensbeoefening, maar dat ’n enkele geloof nie tot uitsluiting van ’n ander bevorder of beoefen mag word nie.

Intussen het Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie, wat die saak teen die ses skole gebring het, dit in die media duidelik gemaak dat hy sy bes gaan doen om elke skool met ’n uitsluitlik Christelike etos aan te vat.

Volgens Pietersen voer hy al ’n nege jaar lange stryd om te sorg dat skole hulself nie met een spesifieke geloof identifiseer nie.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het gesê hy is tevrede met regter Willem van der Linde se bevel, terwyl die burgerregte-organisasie AfriForum steeds van mening is dat ’n gemeenskap moet kan besluit oor die godsdienstige etos van ’n skool. Dié etos moet uitvoerbaar wees sonder om ander leerlinge uit te sluit of te benadeel.

Ingevolge die bevel maak die Grondwet voorsiening vir godsdiensbeoefening in skole, maar mag een geloof nie bo ’n ander bevorder word nie. Die uitgangspunt van die Grondwet en ander beleide is dat geloof op gelykwaardige basis beoefen moet word en dat bywoning vrywillig moet wees. Die klem is ook op godsdiensverdraagsaamheid en die viering van diversiteit. Die vraag is nou tot watter mate mag skole wat doen?

Fedsas meen die uitspraak het meegebring dat verskeie skole wel aanpassings aan hul beleid en praktyke sal moet maak om aan die bevel te voldoen.

Met die houding en ingesteldheid van iemand soos Pietersen, wat geen geheim daarvan maak dat hy sekere skole met valkoë dophou nie, bestaan die gevaar egter dat skole en onderwysers so uitgelewer en blootgestel kan voel, dat godsdiensbeoefening heeltemal afgewater kan word.

Dit is om dié rede dat ouergemeenskappe met groter erns moet kennis neem van veranderende omstandighede wat nie noodwendig in die beste belang van hul kinders is nie. Die plek van godsdiens in die openbaar is wel met die hofuitspraak bevestig, maar die gedagte dat skole tog geteiken kan word indien die toepassing van hul godsdienspraktyke nie aan die verwagtinge van enkele individue kan voldoen nie, is ook kommerwekkend.

Godsdiens kan nie in vrees beoefen word nie. Dit kan ook nie halfhartig gedoen word nie. Daarom sal ouers wat sterk oor dié saak voel, opnuut verantwoordelikheid moet neem om godsdiensonderrig en -beoefening deel van hul kinders se opvoeding te maak. En die plek waar dit eerste moet begin, is in die ouerhuis.

Dalk het dit tyd geword om stil te word en weer oor die woorde van Josua te besin:

“Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: óf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos. 24:15).

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

[Luister] Curriebeker en die Springbokgroep vir die Rugbykampioenskap

wynie-strydom

Wynie Strydom

Hennie Koortzen en Wynie Strydom gesels oor verlede naweek se eindstryd in die Superrugby-toernooi, die begin van die Curriebekerreeks en moontlike spelers vir die komende Rugbykampioenskap in die lig van beserings wat die span teister.

Luister elke Donderdag om 19:05 na Rugby-Radio op Pretoria FM. Besoek ook Maroela Media se rugbyportaal, Pale Toe!

Bejaarde egpaar dood gevind

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Bejaarde egpaar van Pretoria is Woensdagoggend dood in hul huis aangetref.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het gesê die egpaar se huishulp het omstreeks 06:00 op hul liggame in die huis in Hercules afgekom. Sy het dadelik die polisie ontbied.

Volgens Huma is die 87-jarige man en sy 83-jarige vrou met koeëlwonde in die kop aangetref. ʼn Vuurwapen is ook op die toneel gevind.

“In dié stadium is die motief vir die voorval nog nie bekend nie en dit word deur die polisie ondersoek,” het Huma gesê. Sy het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word deur die polisie gedoen.

BoekeJol 2017 sorg vir reuse verskeidenheid

Boekejol.png[promosie-artikel]

Dit is hierdie jaar reeds die derde BoekeJol- en FilmRolfees wat aangebied word.  Dit gaan werklikwaar ʼn fees van lees, luister, debatteer en kuier wees.  Die BoekeJol- en FilmRolfees vind vanjaar van 16 tot 20 Augustus plaas by Lynnwood Bridge in Lynnwood, Pretoria.

Dia van Staden, eienaar van Milestone Events & Training, oud-onderwyseres, lewensvaardigheidspesialis, televisie-aanbieder, radiopersoonlikheid en joernalis, het dié inisiatief in Pretoria kom vestig. “Die derde BoekeJol is gepak met hoogtepunte wat jou Kort-Kort na jou leesbril wil laat gryp. Neem deel. Wees deel. Kom deel jou liefde vir boeke, skrywers, musiek en allerhande mannewales. Dankie aan elke vrywilliger wat hul hande opsteek om Kort-Kort behulpsaam te wees,” vertel sy.

BoekeJol 2017 se feespromgram is bekendgestel met ’n feestelike samekoms wat afgeskop het by Jenna Clifford in Lynnwood Bridge, en daarna is daar heerlik by Citidel gekuier en saamgesels oor die program.

Dié jaar se gewigtige program beloof om alle verwagtinge te oorskry.  Van “wynproe sonder naam”, digitale fotovertonings, gespreksforums, boekbesprekings tot musikale uitvoerings is hierdie jaar op die program.

Kom ontmoet skrywers soos Elsa Winckler, Sophia Kapp, Corlia Fourie, Wilna Adriaanse, Leon van Nierop, Piet Matipa, Fanie Viljoen, die nuwe jeugsskrywer, Adriaan Blom, en nog vele meer.

Daar is ook geleenthede in die Atterbury Teater waar sanger-skrywer-kombinasies ingesluit word.  Kevin Leo gaan op reis saam met Dana Snyman en Erns Grundling.  Jak de Priester bring hulde aan PG du Plessis.  Hulde word ook op ʼn baie besondere wyse aan André P Brink gebring.  Verder tree die Affies Swing Ensamble op, en kan Coenie de Villiers, Hemelbesem, Brandon October en Pops Mohamed saam gesien word.

Sake van die dag en kontroversiële onderwerpe wat almal raak, word nie afgeskeep nie. Onder meer politiek, arbeidskwessies, besigheidsaspekte en fopnuus word bespreek.  Hier aan die woord is onder andere Tim du Plessis, Susan Lombaard,  Gideon du Plessis, Willie Spies, Lerato Tshabalala en nog vele meer.  Kom ontmoet ook vir Helen Zille.

Daar is werklik iets vir almal: van hekel saam met Karen Adendorf tot ʼn digkunsmarathon saam met Bibi Slippers; van ’n radiodramaslypskool en ’n omroeperswerkswinkel tot by kosdemonstrasies.

BoekoeJol sluit boonop op ʼn gepaste manier af met ʼn dankdiens wat deur dr. Arnold Mol gelei word.

Besoek BoekeJol vir die volledige program. Rig navrae aan Dia by 083 726 1180 of [email protected].

BoekejolDeurlopend.jpg
BoekeJol Deurlopend2.jpg
Boekejol Deurlopend3.jpg
BoekejolDeurlopend4.jpg

Pretoria man word nog ‘n statistiek van taxi geweld na aanval met baksteen

Pretoria man word nog 'n statistiek van taxi geweld na aanval met baksteen

Hulle het geslaan om dood te slaan. Carel Kruger (43) was oortuig daarvan toe die baksteen-houe vir die soveelste keer op hom neerreën.

Selfs toe hy bebloed na twee lede van die Tshwane-metropolisie gehardloop het, een aan die baadjie gegryp en gesmeek het: “Help!” het een van die aanvallers nog ’n hou ingekry.

“Die twee metropolisiemanne het net daar gestaan. Hulle was gewapen, maar het niks gedoen nie.”

Toe vlug Kruger maar tussen die voertuie in Lavenderweg in die noorde van Pretoria in en bel ’n vriend om hulp.
Ander lede van die Tshwane-metropolisie het wel later ingegryp en twee vermeende aanvallers gevang, maar Kruger sê hy gaan klagte indien teen die twee wat volgens hom net gestaan en kyk het hoe hy veg vir sy lewe.

“Ek is kwaad. Omdat ons so moet lewe, dat ek net nog ’n slagoffer is soos duisende ander,” sê hy.

Hy het Vrydagaand net na 19:00 in Lavenderweg gery toe ’n wit taxi bane verwissel en amper reg voor hom inry.

“Ek het getoet en ligte geflikker, toe druk die taxi my bakkie van die pad af. Ek het versnel om voor hom in te kom. Toe ek terug in die pad is, het ek bane verwissel om uit sy pad te kom.”

DIE BESTUURDER VAN DIE WIT TAXI HET MY KARSLEUTEL DEUR DIE VENSTER PROBEER UITTREK. TOE EK KEER, BEGIN HULLE MY DEUR DIE VENSTER TE SLAAN.

Die volgende oomblik het die wit taxi verbygejaag en ’n blou taxi, wat in daardie stadium agter die witte was, reg langs Kruger in.

“Die blou taxi het my ook na die skouer van die pad gedwing, ek het probeer wegkom, maar die blou taxi het my bakkie van agter gestamp.”

Die bakkie se elektronika, het Kruger verduidelik, sny outomaties uit as dit deur ’n sekere impak getref word.

“My bakkie het gestol, die wit taxi het dwarsoor die pad voor my ingetrek en die bloue het reg agter my gestop.

“Drie of vier mans het uit die taxi’s gespring.

“Die bestuurder van die wit taxi het my karsleutel deur die venster probeer uittrek. Toe ek keer, begin hulle my deur die venster te slaan.

“Ek het in die gestoei besef hulle gaan my net hier in my bakkie doodmaak, ek moet wegkom. Met die uitklim het die eerste baksteen my links teen my kop getref.

“Dit was toe asof hulle beurte gemaak het om met die bakstene los te trek. Ek het probeer keer, probeer staande bly.”

Tussen die houe deur het Kruger het twee metropolisielede op die middelmannetjie sien staan.

“Ek het soontoe gehardloop. Terwyl ek met die metropolisielede praat, het een aanvaller my sommer weer met ’n baksteen van agter geslaan. Ek het tussen die twee metrolede geval, besef ek gaan nie hulp kry nie, en tussen die karre ingehardloop”.

Die een aanvaller is agter hom aan, steeds slanende met die baksteen.

“Ek wou net wegkom. Ek het by van die voertuie in die pad probeer hulp kry, maar almal het hul deure gesluit”.
Kruger het verder gevlug, sy foon beetgekry en ’n vriend gebel om hulp.

Die vriend was in ’n rekordtyd daar.

’n Ent verder in die pad was ander metropolisielede.

Húlle het twee van die verdagtes gevang. Kruger weet nie of hulle toevallig daar was en of iemand hulle ontbied het nie.

Kruger wil, as lid van Solidariteit en AfriForum, hulle nader vir regsadvies oor optrede teen die twee metrolede wat nie gehelp het nie.

“Ek is nie wraaksugtig nie. Maar wat as dit met ’n vrou of ’n kleiner man gebeur het? Hulle sou dood gewees het. En dit was tog duidelik wié die slagoffer was!”

* Danny Mahlangu en Modiso Dooka het intussen in die hof verskyn en staan tereg op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Hulle is op borgtog van R600 elk vrygelaat en moet weer op 23 Augustus in die hof wees.
** Die Tshwane-metropolisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Deur: Netwerk 24


[Video’s] Vyf in hof oor KFC-voorval

‘n Skermskoot uit een van die video’s.

Die vyf mans wat in hegtenis geneem is in verband met die beweerde aanranding van ʼn egpaar verlede week by ʼn KFC-restaurant in Pretoria, sal Donderdag in die Pretoria-landdroshof verskyn.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het vroeër aan Maroela Media bevestig Marius Harding (23), Ockert Muller (23), RJ Nel (40), Dicky Junior van Rooyen (24) en Joshua Scholtz (21) staan nou op ʼn aanklag van poging tot moord tereg. Hulle is aanvanklik van aanranding aangekla. Een van die beskuldigdes word ook van die rig van ʼn vuurwapen aangekla.

Maroela Media het vroeër berig ʼn video van die beweerde aanranding, wat by ʼn KFC-restaurant in Montana plaasgevind het, het wyd opslae gemaak nadat dit soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het. Die beeldmateriaal, wat met ʼn selfoon opgeneem is, toon hoe ʼn groep mans na bewering ʼn egpaar aanval nadat die egpaar die mans gevra het om vorentoe te beweeg in die deurrybaan by die KFC-restaurant.

‘n Skermskoot uit een van die video’s.

Die selfoon skud so erg rond dat die gebeure nie duidelik op die video gesien kan word nie. Daar word egter gehoor hoe ʼn vrou herhaaldelik skree en baie kru taal word in die video gebruik. ʼn Mansstem kan ook gehoor word wat sê “skiet hom, skiet hom”.

Nog ʼn video is intussen aan Maroela Media gestuur wat glo ná die voorval geneem is. In dié video kan gesien word hoe van die mans en die egpaar saam met nog ʼn vrou buite hul motors staan. Daar kan nie op dié beeldmateriaal gesien word dat enige iemand gewelddadig optree nie, hoewel daar gehoor word hoe een van die beweerde slagoffers een van die beskuldigdes vloek. Die ander vrou op die video is duidelik ontsteld en sê herhaaldelik: “Dit is nie veronderstel om so te wees nie.”

Een van die beskuldigdes beweer in die video dat hy eerste geslaan is. Die video eindig met die beskuldigdes wat in hul motors klim en daar kan gehoor word hoe een van hulle aan iemand jammer sê.

Lees alle vorige berigte oor die KFC-voorval op Maroela Media.

[This post contains video, click to play]

[This post contains video, click to play]