KammaFrans Guesthouse – One of our best sellers in Pretoria!

KammaFrans Guesthouse is located in Pretoria, 3.2 km from Pick ‘n Pay and 4.7 km from Pretoria Boardwalk.

Some rooms have a sitting area to relax in after a busy day. A terrace or patio are featured in certain rooms. The rooms come with a private bathroom. A flat-screen TV is featured.

You will find a shared kitchen at the property.

You can play ping-pong at this guesthouse, and the area is popular for golfing. Mooikloof bowls club house is 4.8 km from KammaFrans Guesthouse, and Wapadrand Shopping Centre is 5 km from the property. The nearest airport is O.R. Tambo International Airport, 38.6 km from KammaFrans Guesthouse.

Free public parking is available on site (reservation is not needed).

Facilities available:
– Free Parking
– Spa
– Family Rooms
– Airport Shuttle
– WiFi
– Non-Smoking Rooms

To view more facilities at this venue then just click on the link below…..

Book your room at this Hotel now!

Find and Book your Cheap Flights here!


Trump se Rusland-beleid gekaap

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

’n Duidelik teësinnige president Donald Trump het verlede week wetgewing onderteken waarvolgens Amerika nuwe sanksies teen Rusland, Iran en Noord-Korea instel. Noord-Korea maak dalk sin, maar onverwagse nuwe sanksies teen Rusland en Iran in ’n tyd van reeds verswakkende verhoudinge met beide belangrike lande, maak eenvoudig nie sin nie.

Trump se waarskuwing nadat hy die wetgewing onderteken het, naamlik dat die verhouding tussen Amerika en Rusland ’n gevaarlike laagtepunt bereik het, is belangrik. Dit dui daarop dat Trump die erns van die krisis verstaan. Amerikaanse politici buite die Withuis is egter sodanig verenig in hul haat vir Rusland dat ’n veto deur Trump net tot groter verdeeldheid binne sy party en tot meer bespiegelinge oor Trump se verhouding met Rusland aanleiding sou gee.

Verlede jaar tydens die Amerikaanse verkiesingsveldtog was Trump se boodskap duidelik. Amerika moet hom uit konflik en oorloë wat nie sy belange dien nie, hou. Tweedens het hy herhaaldelik belowe dat, sou hy president word, sy administrasie daarop sal fokus om deur dialoog en onderhandeling die verhouding tussen Amerika en Rusland te verbeter. Tydens die Republikeinse Party se verkiesingskonvensie in Cleveland was dit duidelik dat die party se grondvlakstrukture hierdie boodskap ernstig opgeneem het. Partybeleid wat hiermee ooreenstem is aanvaar en die oorloglustige neokonserwatiewes wat in die Oekraïne teen Rusland wou gaan oorlog maak en nuwe konflik met Iran wou skep, het verloor. In November verlede jaar het die Amerikaanse kiesers gespreek en is Trump verkies.

Vandag, byna sewe maande ná Trump se inhuldiging lyk dit egter asof die oorloglustiges ten spyte van die wil van die Amerikaanse kiesers daarin slaag om hul agenda weer te laat geld. Die Amerikaanse regering het onlangs besluit om ten spyte van Trump se beloftes van verlede jaar wel wapentuig en ammunisie aan die regering in Kiev te voorsien. Verlede week het adjunkpresident Mike Pence in Georgië belowe om dié land deel van NAVO te maak en daardeur Amerikaanse militêre teenwoordigheid in nog ’n land tot op die grens met Rusland te neem. Dit alles spreek van Amerikaanse aggressie teenoor Rusland.

Ten spyte van Trump se beloftes van dialoog met Rusland, verkies die Amerikaanse kongres om eerder die Russe met nog sanksies te verras en kwaad te maak. Nie eens die Europeërs het van die beplande sanksies geweet nie en talle Europese leiers het met ontsteltenis daarop gereageer.

Verlede maand is ’n standbeeld van Roland Reagan en Mikhail Gorbatsjof in Moskou onthul. Talle hooggeplaaste Russiese politici het die geleentheid bygewoon. Ten spyte van talle uitnodigings het Amerika besluit om niemand na die geleentheid te stuur nie. President Gorbatsjof se reaksie op die onthulling van die standbeeld was dat die projek nie net na die verlede kyk nie, maar ook na hoe die toekoms tussen Rusland en Amerika moet lyk: een van reguit praat en gesonde dialoog.

Die teenwoordigheid van meer en meer Amerikaanse tenks in Oos-Europa, sanksies wat sonder goeie rede ingestel word en die voortdurende vernedering van Rusland se mense en leiers is nie in die belang van Amerika nie. Dit lyk ongelukkig of Trump se beleid jeens Rusland toenemend deur die neokonserwatiewe oorlogslustiges gekaap is. Dit kan net tot meer konflik en lewensverlies aanleiding gee.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Vandag se sportnuus

Atletiek

Die IAAF se wêreldkampioenskap het gister sy vyfde dag beleef. Suid-Afrika spog met nog ʼn gouemedalje en is nou derde op die medaljeleer.

Wayde van Niekerk het gemaklik sy titel in die 400 meter verdedig en weer met goud weggestap

Wayde van Niekerk en Akani Simbine sal môre aan die 200 m-halfeind deelneem.

400 m-hekkies halfeind

200 m-uitdunne

Rugby

Die Springbokspan het gister in Port Elizabeth aangekom waar hulle gaan voorberei vir die eerste toets in die Kampioenskap-reeks. Die wedstryd is teen Argentinië op 19 Augustus in die Nelson Mandelabaai-stadion.

  • Curriebeker

Drie wedstryde word vandag beslis

Gholf

  • Jordan Spieth gaan dié week poog om die jongste speler nóg te word om ʼn loopbaan Grand Slam agter sy naam te skryf. Daarvoor kort hy net die PGA-kampioenskap.
  • Ernie Els slaan môre in sy 100ste Major-toernooi saam met ses ander Suid-Afrikaners af in die PGA-kampioenskap in Noord-Carolina. Dit sluit Charl Schwartzel, Louis Oosthuizen en Branden Grace in.

Krieket

  • Op die jongste wêreldranglys vir toetskrieket, het Hasim Amla tot die negende plek as kolwer opgeskuif na die reeks teen Engeland.
  • Die driehoekige eendagreeks vir A-spannese eindstryd is gister in Pretoria gespeel.

Suid-Afrika    267/7 (50 bb)

Indië               270/3 (46.5 / 50 bb)

Indië wen met 7 paaltjies (met 19 balle oor)

Netbal

Dit is weer byna tyd vir die Varsitybeker Netbalreeks om te begin. Die borge FNB, Samsung en Wimpy het bekend gemaak dat die reeks op 27 Augustus begin en op 9 Oktober sal eindig.

Deelnemende spanne sluit in:

Moto GP

Die Grand Prix van Oostenryk word dié naweek gejaag. Die wedren sal op die Red Bull Ring afgehandel word.

Sokker

In Suid-Afrika sukkel Bafana Bafana om ʼn behoorlike span bymekaar te kry vir die naweek se CHAN kwalifisering teen Zambië. Boonop het die afrigter Stuart Baxter nie by gister se oefening opgedaag nie en hy het ook ʼn mediakonferensie gemis.

Real Madrid en Manchester United het gisteraand in die Uefa-superbeker kragte gemeet. Real Madrid het met 2-1 koning gekraai.

Curriebeker-kollig Woensdag skerp op Loftus

Die kollig in die Curriebekerreeks val Woensdag skerp op Loftus Versfeld, waar die Blou Bulle en die Sharks in die Curriebekerreeks aanmekaar spring.

Dis albei spanne – nes die geval met Griekwas en die Westelike Provinsie is – se tweede van drie wedstryde in agt dae, en die spelers sal dit nou reeds aan hul lywe begin voel.

Die onoorwonne Bulle (twee wedstryde) is tans tweede op die punteleer, maar wat ligapunte betref gelyk met die Sharks, wat tot dusver twee van hul drie wedstryde gewen het.

ʼn Sege is vir albei van die uiterste belang, maar dit kan wees dat die Sharks net daardie tikkie sterker aansporing het.

Die Durbaniete moes drie spelers aan die Springbokgroep afstaan, en die Bulle net een.

Die Curriebeker-kampioen, die Cheetahs, sal op Nelspruit nog soveel moontlik punte wil verdien, voor hy sy Europese Pro14-ekspedisie aandurf.

Die Vrystaters kry oor ʼn raps meer as drie weke in Belfast, Ierland, sy eerste smakie van die nuwe reeks, en sal soveel moontlik Curriebekerpunte wil opstapel voordat sy keurbende vir die Suid-Afrikaanse reeks verlore is.

Afhangende van die spelers se wedstrydskerpte lyk die Pumaspan vir dié botsing sterker as die span wat die vorige week sleg teen die Sharks verloor het.

Sake in Kimberley sal ook fyn dopgehou word om te kyk of die tuisspan sy gesukkel tot dusver in die reeks te bowe kan kom.

Die agteros, Griekwas, is dringend op soek na ʼn sege om sy aansien te red, en die Cheetahs het getoon die Westelike Provinsie is nie onoorwinlik nie.

Afskoptye –

13:00 Griekwas teen WP, Griekwapark, Kimberley

15:15 Pumas teen Cheetahs, Mbombela-stadion, Nelspruit

17:30 Blou Bulle teen Sharks, Loftus Versfeld, Pretoria

Nuwe wending in soektog na man wat 31 jaar vermis is

Dennis Haynes soos hy gelyk het toe hy vermis geraak het. Foto: Facebook

ʼn Nuwe wending het Dinsdag aan die lig gekom in die soektog na Dennis Haynes, die man van Bloemfontein wat 31 jaar gelede spoorloos verdwyn het.

Desireé Haynes, Dennis se suster, het gesê ʼn DNS-toets wat gedoen is om die DNS van haar ma en die man wat hulle vermoed het is haar broer te vergelyk, was negatief.

Haynes het vroeër vandeesmaand gesê dat ʼn eerste DNS-toets ʼn verband tussen haar en die man wat hulle geglo het Dennis is, getoon het. Volgens Haynes oorweeg sy nou om nog ʼn DNS-toets te laat doen, maar het die familie nog nie daaroor besluit nie.

Maroela Media het vroeër berig Dennis was 22 jaar oud toe hy in 1986 van Bloemfontein na Roodepoort vertrek het vir ʼn werksgeleentheid. Dennis het egter nooit teruggekeer nie en sy familie kon hom nie in die hande kry nie. Hy is as vermis aangemeld by die polisie, maar ʼn soektog na hom het niks opgelewer nie.

Nadat ʼn vriendin van Desireé ʼn Facebook-blad begin het om teen alle verwagting in te kyk of sy nie dalk vir Dennis kan opspoor nie, het ʼn vrou wat hulp aan haweloses in Pretoria gee Dennis se foto gesien en haar gekontak. Sy het gesê dat daar ʼn hawelose man in Pretoria is wat moontlik Dennis kan wees. Desireé is Pretoria toe om die man te ontmoet en hy het homself as Francois voorgestel, hoewel hy baie soos ʼn ouer weergawe van Dennis lyk wat 31 jaar gelede vermis geraak het.

Die Haynes-familie het sedertdien vir Francois ingeneem en help hom om weer op sy voete te kom. Foto: Facebook

Desireé het vroeër gesê die man ly aan erge geheueverlies en het ʼn vorm van breinskade opgedoen, vermoedelik nadat hy in ʼn tref-en-trap-ongeluk betrokke was. Die familie het hom sedertdien ingeneem en hom gehelp om weer op sy voete te kom. Desireé het verlede week aan Maroela Media gesê hoewel hy waarskynlik nooit weer sal werk nie, doen hy tans handewerk en maak onder meer sleutelhouers en armbandjies om homself besig te hou. Die familie wil hom ook by ʼn sentrum kry wat kan help om sy brein te stimuleer.

“Die reis is nog steeds nie verby nie. Ons sal nog steeds vir Francois help en hom die ondersteuning gee wat hy nodig het,” het Desireé Dinsdag gesê. “En ek sal beslis aanhou om na my broer te soek.”

Nadine Smal, Desireé se vriendin, het Dinsdagaand op die Facebook-groep oor Dennis geskryf Francois se glimlag het in hul harte gekruip en hulle gewys daar is altyd hoop ongeag hoe sleg omstandighede is. “Ons gaan nie die [Facebook-] blad sluit nie. Ons is jammer as daar mense is wat ons in ons soeke te na gekom of seergemaak het, maar ongelukkig is daar nie ‘n handleiding vir dié soort ding nie,” het sy gesê.

“Dennis Vivian Haynes, ek ken jou glad nie, ek weet nie hoe jou stem klink, hoe jy lyk of waarvan jy hou of nie hou nie, maar jy het diep spore in my gemoed kom trap. Ek het vir Desireé belowe ek sal nie ophou soek nie. Ek sal aanhou tot ek jou kry. Ter wille van jou en jou familie sal ons jou kry. Ek sal nie toelaat dat jy in ‘n oorvol stelsel bly wegraak en stof opgaar oor onbevoegde, onbelangstellende mense wat nie omgee nie. Ons sal jou kry en teruggee aan die mense wat al vir meer as dertig jaar elke aand gaan slaap met die wonder oor waar jy is en elke oggend opstaan met hoop dat jy gevind sal word.”

KFC-voorval: ‘Almal sien net een kant’

‘n Skermskoot uit die video.

Die vyf mans wat in hegtenis geneem is in verband met die beweerde aanranding van ʼn egpaar verlede week by ʼn KFC-restaurant in Pretoria, staan nou op ʼn swaarder aanklag tereg.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media bevestig die verdagtes staan nou op ʼn aanklag van poging tot moord tereg. Hulle is aanvanklik van aanranding aangekla. Hy het bevestig die vyf verdagtes verskyn Donderdag in die hof. Een van die beskuldigdes word ook van die rig van ʼn vuurwapen aangekla.

Ruan Hollamby van die regsfirma Jay Inc prokureurs, wat beskuldigde O Muller (20) verteenwoordig, het aan Maroela Media gesê hul kliënt sal onskuldig pleit op die aanklag teen hom. “Almal sien nou net een kant van die voorval. Die klaers het ook rassistiese uitsprake gemaak en die beskuldigdes aangehits.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn video van die beweerde aanranding, wat by ʼn KFC-restaurant in Montana plaasgevind het, het wyd opslae gemaak nadat dit soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het. Die beeldmateriaal toon hoe ʼn groep mans na bewering ʼn egpaar aanval nadat die egpaar die mans gevra het om vorentoe te beweeg in die deurrybaan by die KFC-restaurant.

Daar het intussen ook ʼn ander video van die voorval aan die lig gekom. In dié video kan gesien word hoe van die mans en die egpaar saam met nog ʼn vrou buite hul motors staan. In hierdie video kan daar nie gesien word dat enige iemand gewelddadig optree nie. Een van die beskuldigdes beweer egter in die video dat hy eerste geslaan is. Die video eindig met die beskuldigdes wat in hul motors klim.

Vier mans wat deur die polisie as M Harding (22), Muller, RJ Mel (39) en DJ van Rooyen (21) geïdentifiseer is, is verlede week in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hulle het reeds Vrydag in die Pretoria-landdroshof verskyn, waarna Muller op borgtog vrygelaat is. Die ander drie is borgtog geweier en sal Donderdag weer om borgtog aansoek doen wanneer al die verdagtes saam in die hof sal verskyn.

ʼn Vyfde verdagte en sy regsverteenwoordiger het hom Maandagoggend by ʼn polisiestasie oorgegee waar hy in hegtenis geneem is.

Volgens Hollamby het vier van die beskuldigdes kort ná die voorval na die Sinoville-polisiestasie gegaan om ʼn klag teen die egpaar aanhangig te maak. “Met hul aankoms was die egpaar reeds daar. Die polisie het vir hulle gesê om te wag, maar het geweier dat hulle die perseel verlaat of ʼn klag lê. Die egpaar het intussen klagtes teen hulle aanhangig gemaak waarna die vier mans in hegtenis geneem is.”

Mosie van wantroue: Debat begin

Optoggangers in Kaapstad ter ondersteuning van die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma (8 Augustus 2017). Foto: Twitter via @Our_DA

Die debat oor die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma het Dinsdag om 14:00 in die parlement begin.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het eerste geleentheid op die podium gehad. Maimane het gesê hoewel daar verskillende partye met verskillende beleide in die parlement sit, is almal verenig in ʼn liefde vir Suid-Afrika en ʼn lojaliteit teenoor die grondwet.

Maimane het gesê hy het in Soweto grootgeword en eerstehands gesien wat onderdrukking aan die mense van Suid-Afrika doen. “Nooit het ek gedink dat ek jare later ʼn ander soort onderdrukking sal beveg nie – die onderdrukking van ʼn korrupte president wat gekaap is deur ʼn kriminele sindikaat.”

Maimane het by ANC-LP’s gepleit om volgens hul gewete te stem en te stem vir die eerbare en regte ding. Hy het oudpres. Nelson Mandela aangehaal wat gesê het: “Mag jou keuses jou hoop weerspieël en nie jou vrese nie.”

“Ek vra julle vandag om te stem vir hoop. Die hoop dat ons die korrupsie wat ons mense onderdruk kan oorwin. Die hoop dat ons Suid-Afrika ʼn beter plek vir ons kinders kan maak. As ons vandag die regte ding doen, sal ons ons kinders die beter toekoms gee wat hulle verdien. Stem vir jou hoop, nie vir jou vrese nie. Ek pleit by julle, kom ons sit die mense van Suid-Afrika eerste en stem om Jacob Zuma vandag uit sy pos te verwyder.”

ANC-LP Doris Dlakude het tydens haar beurt op die podium teruggekap deur te sê die ANC het nog altyd sy foute erken en onderneem om dit te reg te stel. Sy het verwys na Zuma se instemming om ʼn kommissie van ondersoek op die been te bring om staatskaping te ondersoek. “Ons sal ons nie laat uitverkoop nie. Ons weet wie ons hierheen gestuur het. Ons sal vir die ANC stem en verwerp hierdie mosie met die minagting wat dit verdien,” het sy gesê.

Optoggangers in Pretoria ter ondersteuning van die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma (8 Augustus 2017). Foto: Jonisayi Maromo/ANA.

Julius Malema, leier van die EFF, het op sy beurt gesê die mosie gaan nie oor die ANC nie, maar oor Zuma wat “die mees korrupte individu in hierdie land is”. Malema het die ANC gewaarsku dat indien hulle nie verander en verbeter nie, hulle in 2019 nóg verder by die stembus sal verloor.

“Ons het nie ʼn probleem met ʼn kabinetskommeling nie, maar ons het ʼn probleem daarmee dat die kabinet geskommel word deur mense wat nie verkies is nie. Ons staan op teen die Guptas. Ons staan op teen die individue wat die mense se mag aan ʼn familie van buitelanders gegee het,” het hy gesê.

Hy het ook ʼn beroep op ANC-LP’s gedoen om met hul gewete te stem. “Dit is ʼn geheime stemproses. Jou gewete bly by jou. Jy weet ons is reg. Julle skryf jul eie geskiedenis. Jy sal geoordeel word aan die geskiedenis wat jy geskryf het.”

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê ʼn president kan vertrou word wanneer hy in die belang van die mense van die land optree. “Wanneer ʼn president bereid is om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid te aanvaar vir die dade van die regering en die dade wat hy toelaat om te gebeur. Wat ons in Suid-Afrika het, is ʼn president wat voortdurend die blaam op iemand anders plaas. As die ekonomie nie groei nie, is dit witmonopoliekapitaal se skuld. Dit is nooit die president se fout nie, dit is altyd iemand anders se fout.”

Groenewald het aan ANC-LP’s gesê indien hulle nie die mosie van wantroue in Zuma ondersteun nie, hulle ʼn boodskap aan Suid-Afrikaners sal stuur dat die probleem nie die president is nie, maar die ANC-regering.

Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het ʼn beroep op LP’s gedoen om nie “vir iemand te stem wat vir ons mense gelieg het en saam met sy vriende, die Guptas, gesteel het nie”.

LP’s sal na afloop van die debat tydens ʼn geheime stemproses oor die mosie stem.

Pap band fnuik inbrekers

Argieffoto: Phillip Bruwer

ʼn Vermeende inbreker is in die ooste van Pretoria in hegtenis geneem nadat sy wegkommotor ʼn pap band gekry het.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisie, het gesê beamptes van die Tshwane-Sentraal-streek was Sondag omstreeks 13:00 besig met misdaadvoorkomingspligte teen trio-misdade (kapings, huisroof en sakeroof) in Brooklyn toe hulle inligting ontvang het van ʼn inbraak.

“Hulle het inligting ontvang om vir ʼn wit Toyota uit te kyk wat vroeër die dag by ʼn inbraak in Hazelwood betrokke was,” het Weilbach gesê.

“Hulle het die Toyota, met vier insittendes, kort daarna by ʼn vulstasie in die omgewing opgemerk. Die motor het ʼn pap band gehad. Die vier insittendes het weggehardloop toe hulle die polisiebeamptes opgemerk het.”

Die polisie het die verdagtes agternagesit en een van die verdagtes aangekeer. “Die ander drie kon daarin slaag om in ʼn minibustaxi te ontsnap en is steeds soek.”

By nadere ondersoek is vasgestel dat die motor wat die verdagtes gebruik het, in Mei vanjaar in Villieria gesteel is. Ware wat tydens die inbraak gesteel is, is in die motor gevind.

Die 37-jarige verdagte van Mamelodi moet binnekort in die Hatfield-gemeenskapshof verskyn op aanklag van huisbraak.

Sou die mosie van wantroue geslaagd wees…

‘n Optog teen pres. Jacob Zuma in Pretoria (7 April 2017). Foto: Maroela Media

Wat moet Dinsdagmiddag gebeur om te verseker dat die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma geslaagd is, en hoe sal sake daarna verloop? Maroela Media het met ʼn kenner van die grondwetlike reg en ʼn politieke ontleder gesels om uit te vind wat moet gebeur:

Wanneer begin die mosie van wantroue?

Die debat rondom die jongste mosie van wantroue teen Zuma behoort omstreeks 14:00 op Dinsdag 8 Augustus by die parlement in Kaapstad te begin, waarna lede van die nasionale vergadering (NV) hulle stemme vir of teen die mosie in die geheim sal uitbring.

Hoeveel stemme word benodig vir die mosie om geslaagd te wees?

Volgens prof. Pierre de Vos, voorsitter van die Claude Leon-stigting vir grondwetlike reg, en prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, moet ʼn volstrekte meerderheid van NV-lede die mosie steun. Daar is tans 400 lede in die NV, wat beteken 200 lede plus een moet vir die mosie stem.

Die ANC het tans 249 LP’s en die opposisiepartye het 151 LP’s in die nasionale vergadering. Vir die mosie om geslaagd te wees, moet 50 ANC-LP’s die mosie dus ondersteun.

ʼn Verdere 37 LP’s van ander opposisiepartye buiten die DA en EFF moet saam met dié twee opposisiepartye se LP’s die mosie van wantroue ondersteun vir dit om geslaagd te wees.

“Hou ook in gedagte dat nie alle opposisiepartye die mosie van wantroue teen Zuma ondersteun nie. Zanele kaMagwaza-Msibi, die leier van die Nasionale Vryheidsparty, het byvoorbeeld reeds aangedui sy sal nie die mosie van wantroue teen Zuma ondersteun nie. Haar party het ses LP’s in die NV,” het Duvenhage bygevoeg.

Wat is die implikasie van ’n ‘wegbly’-stem?

De Vos verduidelik ʼn “wegbly”-stem of ʼn stem vir onthouding beteken inderwaarheid dat die LP ʼn stem teen die mosie van wantroue uitgebring het.

“Dit gaan in hierdie geval daaroor dat die totale getal van 201 stemme benodig word wat ja stem vir die mosie van wantroue om geslaagd te wees, al sou net ʼn honderd ANC-LP’s besluit om te stem.”

ʼn Geheime stem – die voordele

Die stemmery rondom die jongste mosie van wantroue in Zuma sal Dinsdagmiddag vir die eerste keer in die geheim gedoen word. Maroela Media het vroeër berig watter prosedures binne die parlement hiervoor gevolg sal word.

LP’s kan nou besluit om teen hulle party se wense te stem of om ʼn “wegbly”-stem of ʼn stem vir onthouding uit te bring.

De Vos reken nie die speaker se besluit om ʼn geheime stemmery toe te laat sal in die toekoms enige slegte gevolge vir die land se demokrasie inhou nie.

“Ek dink mense wat nie die konstitusionele hof se uitspraak behoorlik bestudeer het nie, sal dié soort mening handhaaf. Die hof het duidelik gesê ʼn openbare stemming moet as die standaard gehandhaaf word, maar ʼn geheime stemming is in uitsonderlike gevalle toelaatbaar, mits die NV verantwoordbaar gehou kan word en daar nie ʼn sprake van omkopery is nie,” het De Vos gesê.

Wie moet bedank as die mosie geslaagd is, en wat is die implikasies vir die regering?

President Jacob Zuma, sy ministers en hulle adjunkministers sal onmiddellik moet bedank indien die mosie van wantroue geslaagd sou wees.

Die kenners meen egter die regering sal nie in totale chaos gedompel wees soos Jackson Mthembu, die hoofsweep van die ANC, vroeër voorspel het nie.

“Die ANC sal steeds sy meerderheid in die parlement behou en baie van dieselfde lede sal ook weer tot die kabinet verkies word as gevolg van hierdie meerderheid,” het De Vos gesê.

Wie is die volgende president?

Die speaker Baleka Mbete sal as waarnemende president optree terwyl die NV binne 30 dae ʼn nuwe permanente president uit die NV-lede moet verkies. Mbete het ook die keuse om, indien sy wou, in dié tyd ʼn ander waarnemende president aan te wys.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng sal in hierdie tyd as voorsitter van die NV en NV-verkiesing vir ʼn nuwe president optree.

Wat gebeur as die Nasionale Vergadering nie ʼn konsensus bereik nie?

Indien die NV nie binne 30 dae ʼn konsensus kan bereik oor wie die nuwe permanente president van die land moet wees nie, moet daar ʼn algemene verkiesing gehou word en dit moet binne drie maande plaasvind.

Kan Zuma op ʼn manier daarna weer president word?

De Vos meen dit sal nie maklik gebeur nie: “Die nuwe president moet ʼn lid van die NV wees en die president hou op om ʼn lid van die NV te word die oomblik wanneer hy president word. Die ANC sal op ʼn manier moet verseker dat Zuma aan die bopunt van die kieserlyste kom, maar dit sal baie en uitstekende voetwerk kos.

“Hy kan egter weer ʼn minister word, want twee ministers kan in die kabinet aangestel word sonder dat hulle lede van die NV is.”

Wat is die kanse dat hierdie mosie geslaagd kan wees?

“My aanvoeling is steeds dat Zuma die jongste mosie van wantroue sal oorleef. Daar is eenvoudig te veel gevestigde belange in hom en sy faksie, en dan verneem ek ook dat daar redelike hoë vlakke van intimidasie aan die gang is om te verseker dat ANC-LP’s teen die mosie van wantroue sal stem,” het Duvenhage gesê.

“Indien die onmoontlike Dinsdagmiddag sou gebeur – ʼn geheime stemming waarin Zuma die mosie van wantroue nie oorleef nie – sal dit beslis die mees dramatiese politieke gebeurtenis in Suid-Afrika wees sedert 1994.

“Ek dink egter mense moet onthou in die ANC se wêreld is die party groter as die Suid-Afrikaanse staat. Dit is hulle huis en in hierdie wêreld kan die parlement nie vir die ANC besluit nie. Die ANC kan wel vir die parlement besluite neem.”

SA’ners aangemoedig om LP’s te bel

Grafika wat op sosiale media versprei word. Grafika: Twitter

Sosialemedia-aktiviste het Dinsdag die selfoonnommers van parlementslede gepubliseer en Suid-Afrikaners aangemoedig om hulle te bel en hulle te oortuig om vir die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma te stem.

Die selfoonnommers is langs die naam van die betrokke LP gepubliseer en die publiek is aangemoedig om ʼn LP te kies en te bel.

Verskeie sosialemediagebruikers het ook boodskappe aan LP’s op sosialemediaplatforms gedeel waarin hulle die LP’s aanmoedig om nie hul getrouheid aan die Grondwet te ignoreer nie en vír die mosie van wantroue te stem aangesien dit “ʼn einde sal bring aan staatskaping”.

ANC-ondersteuners in Kaapstad tydens ʼn optog ter ondersteuning van pres. Jacob Zuma (8 Augustus 2017). Foto: ANA

Die debat oor die mosie begin om 14:00 in die parlement waarna LP’s deur middel van ʼn geheime stemproses sal stem.

Intussen is opposisiepartye in Kaapstad tesame met organisasies soos Future SA en SaveSA besig met ʼn optog na die parlement in aanloop tot die debat. In Pretoria het honderde EFF-ondersteuners na die Uniegebou opgeruk ter ondersteuning van die mosie van wantroue in Zuma, terwyl ANC-ondersteuners ook saamgetrek het vir ʼn optog ter ondersteuning van Zuma.