SunCity:
Vra vir enige oorsese rugbyspeler watter stadion en sy toeskouers die mees intimiderende is en die antwoord is byna altyd: Ellispark.
Jare lank het Loftus se spook by toerspanne vrees ingeboesem, maar namate die Bulls van hul trefkrag verloor het, het die toeskouers gaandeweg makker geraak.
Maar op Ellispark? Aikôna.
Ja, hulle raak stiller wanneer die ander span voorloop, maar dan word die lont aangesteek en word dit nag vir die teenstanders wanneer daar gesing, geskree , vlae gewaai word en die Mexikaanse golf rol.
Saterdag wanneer die Crusaders in die eindstryd van vanjaar se Superrugbyreeks teen die Lions speel, sal hulle bitter min ondersteuning vanuit die paviljoene ontvang. Trouens, niks nie.
ʼn Paar jaar gelede het spanne alles gedoen om vanuit die Goudstad te ontsnap.
Spanne het in Durban en Kaapstad gebly en voorberei, ongeag die ongerief van ʼn bykomende vlug en die uitwerking van die hoogte bo seevlak wat die longe in die tweede helfte laat brand.
Die Waratahs het een jaar in Witrivier gebly, die All Blacks en Nieu-Seelandse Superspanne het die Pilanesberg-wildtuin, Sun City, Pretoria en Centurion probeer.
Maar die Vrydag moes die span darem op Ellispark gaan stap, ʼn laaste kapteinsoefening hou en die skoppers kon vir oulaas hul visiere instel.
Selfs dít het ook geboemerang, soos die dag toe die All Blacks voor die hoofpaviljoen vir oulaas kringetjie gemaak en Andrew Mehrtens en Jeff Wilson aangelê het pale toe.
Iemand (wie anders as ʼn glimlaggende dr. Louis Luyt?) het opdrag gegee om die nuwe sproeiers aan te skakel.
Die All Blacks was briesend, maar die sproeiers het bly spuit, want dit was glo ʼn rekenaarprogram wat nie verander kon word nie.
Papnat het die spelers in die bus geklim, in afwagting op die volgende dag se “hartlike ontvangs” van 58 000 toeskouers.



.gif)


