Spoorlyn in die weste van Pretoria kry nuwe baaidjie danksy publiek en Transnet

Spoorlyn in die weste van Pretoria opgeruim deur publiek en Transnet

’n Uiterste verwaarloosde spoorlyn wat aan die weste van Pretoria geleë is, het gedurende die week ’n nuwe baadjie gekry. Die spoorlyn wat oor ’n groot gebied in die weste strek was vir ’n geruime tyd ’n groot probleem vir die plaaslike gemeenskap.

Volgens DA-raadslid Elma Nel was die spoorlyn ’n reuse probleem in haar wyk. Sy vertel dat vir die eerste keer was daar goeie samewerking vanaf beide Transnet en die publiek. Nel spreek haar dankbaarheid uit teenoor almal wat ’n handjie bygesit het met die opruimings werk en loof die betrokke partye vir hul bereidwilligheid om te help. Nel beklemtoon dat sy alreeds van die begin van die jaar haar bemoei het met die skoonmaak van die spoorlyn.

Volgens ’n inwoner, net bekend as Sarel, is hy verheug oor die skoonmaaksessie. Sarel vertel dat hy die afgelope 36 jaar in die gebied woon. Hy skryf die oorsaak toe aan onwettige storting wat gereeld plaasvind. Sarel vertel skertsend dat hy enkele dae te vore onwettige storters by die spoorlyn op heterdaad betrap het. Hy het self foto’s van die skuldige partye geneem en vir DA-raadslid Elma Nel aangestuur.

Nel beweer dat die betrokke spoorlyn is ’n groot probleem in die wyk omrede onwettige stortings daar plaasvind en self dwelmmiddels versprei word. Sy het egter langtermyn planne om die gebied meer vriendelik te maak deur ’n speelterrein vir kinders en fietsry-en draf roetes in te rig.

Die skoonmaaksessie by die spoorlyn het reeds Maandagoggend in volle gang begin en teen Woensdag was die betrokke partye goed op dreef.


Na drie dekades wil Gert van Rooyen se Seun saak heropen

Gert van Rooyen se Seun wil saak heropen

Na bykans drie dekades lig pedofiel Gert van Rooyen se seun vir die eerste keer die sluier oor wat hy beweer op die dag van Gert en sy houvrou Joey Haarhoff se dood gebeur het.

“Daar was nooit ‘n selfmoordpakt tussen my pa en Joey nie,” sê Gerhard in ’n video-opname wat op Facebook geplaas is.

Gerhard het ook nadoodse foto’s van sy pa en Joey op Facebook gelaai.

Hy het kenners uitgedaag om te bepaal dat die paartjie wel selfmoord gepleeg het.

Van Rooyen en Haarhoff het na bewering tienermeisies tussen 1988 en 1990 in Pretoria ontvoer.

In Januarie 1990 is die 16-jarige Joan Booysen ontvoer. Sy kon egter kort daarna uit die paartjie se huis in Pretoria ontsnap waarna sy die polisie op hul spoor gesit het.

Van Rooyen en Haarhoff het dae later op die vlug geslaan toe hulle die polisie voor hul huis in Capital Park gewaar het.

Hulle het in ‘n motor tot by die Apiesrivierbrug gejaag waar Van Rooyen glo eers Haarhoff en toe homself doodgeskiet het.

Gerhard sê: “Almal het maar hulle eie bedenkinge daaroor. Sommige spreek dit uit en ander kyk net, lees en maak hulle eie afleidings.”

Die selfmoord is nie al wat Gerhard in die opname bespreek nie.

“Soos ek reeds in 2004 gepoog het om voor die direkteur van openbare vervolging (DOV) dit te doen voordat die minister van minister van veiligheid en sekuriteit die saak onbepaald te laat uitstel,” vertel hy verder.

“My versoek was baie eenvoudig – verklaar my pa skuldig of onskuldig.

Niemand wou daardie roete volg nie wat baie vreemd is.”

Gerhard sê dat hy ook versoek het dat die saak teen sy pa nie laat vaar moet word nie, maar weer ondersoek moet word.

“Niemand het daardie roete gevolg nie. Al wanneer daar ondersoek ingestel word is wanneer daar iets in die media gesê word of as ’n sangoma of siener iets gesien het,” sê hy op die opname.

“So deur die jare is derduisende mannekrag en miljoene rande gemors op hierdie baie, baie hartseer en sensitiewe ondersoek wat nie net die kinders se familie se lewens raak nie, maar ook ons familie s’n.”

Gerhard sê dit blyk asof niemand meer aan die saak wil werk nie.

“Polisie offisiere het bedank, daar is nie meer ’n spesiale eenheid of ’n kinderbeskerming-eenheid in die polisie nie. My vraag bly staan: wie ondersoek nou eintlik hierdie saak,” sê hy.

“Is daar nie ’n eenheid wat met die ondersoek moet aangaan nie. Eintlik moet die saak ondersoek word. Die dossier het weggeraak asook die doodsondersoek van my pa en Joey. Die leêrs van die hofsaak is ook vermis – alles raak eenvoudig net weg.”

Gerhard vra dat die saak weer herondersoek word.

“Die probleem is net: Jy kan nie die saak in Suid-Afrika ondersoek nie. Die publiek en polisie het eending voor die oë – Gert van Rooyen. Hulle kyk heeltyd in hom vas,” vertel hy in sy opname.

“Kyk buite die boks. Julle weet nou hy is betrokke of nie betrokke, kom ons soek die kinders. Solank as wat dit aangaan solank sal die saak onopgelos bly.”

Hy stel voor dat buitelandse ondersoekers ingeroep word om te help.

“Maar hierdie speurders moet voorberei om nie in my pa vas te kyk nie, maar om vir die kinders te soek,” sê hy.

“Dis tyd dat die saak oopgevlek word en die regte mense verantwoordlikheid neem vir wat gebeur het.”

Deur: Pretoria Moot Rekord
Joernalis: Nie genoem in artikel


Dennis Haynes, vermis sedert 1986, word moontlik na 31 jaar opgespoor in Pretoria-Noord

Vermiste Dennis Haynes word na 31 jaar opgespoor in Pretoria-Noord

ʼn Man van Bloemfontein wat in Februarie 1986 spoorloos verdwyn het, is moontlik ná 31 jaar in Pretoria opgespoor.

Dennis Haynes was 22 jaar oud toe hy van Bloemfontein na Roodepoort vertrek het vir ʼn werksgeleentheid. Sy vrou en eenjarige dogtertjie het in Bloemfontein agtergebly.

Dennis het egter nooit teruggekeer nie en sy familie kon hom nie in die hande kry nie. Hy is as vermis by die polisie aangemeld, maar ʼn soektog na hom het niks opgelewer nie.

Desireé Haynes, Dennis se suster, was baie jonk toe haar broer vermis geraak het. Sy het
Vrydag aan Maroela Media gesê dat die familie mettertyd aanvaar het dat hy waarskynlik dood is. “ʼn Vriendin van my het ses weke terug besluit om bietjie te begin krap. Ons het nie gedink ons sal hom lewend opspoor nie, maar ons wou graag weet watndestyds met hom gebeur het,” het Desireé gesê.

Desireé se vriendin het ʼn Facebook-blad begin waarop sy ʼn foto van hom geplaas het en gevra het dat enigiemand wat hom moontlik gesien het met haar kontak maak. ʼn Vrou wat hulp aan haweloses in Pretoria gee, het die foto gesien en haar gekontak. “Die vrou het ʼn foto van ʼn hawelose man in Pretoria op die groep se blad geplaas en gevra of dit moontlik dieselfde man kon wees.

Van ons familielede wat die foto gesien het, was onmiddellik vas oortuig dat dit Dennis is,” het Desireé gesê.

Vandeesweek is Desireé en haar vriendin Pretoria toe om die man te ontmoet en te kyk wat hulle kan wys word. Die man het homself as Francois voorgestel, hoewel hy baie soos ʼn ouer weergawe van Dennis lyk wat 31 jaar gelede vermis geraak het.

Volgens Desireé ly die man aan erge geheueverlies en kon sy agterkom dat hy ʼn mate van breinskade opgedoen het.

Dennis Haynes soos hy gelyk het toe hy vermis geraak het.

“Ek was baie jonk toe Dennis vermis geraak het en kan hom nie baie goed onthou nie. Maar my hele familie herken hom. Almal is vas oortuig die man van Pretoria is Dennis.”

Volgens Desireé het die man haar nie onmiddellik herken nie, maar nadat sy ʼn rukkie met hom gesels het, het hy gesê hy weet sy is sy suster. Hy het ook ʼn foto van hul ma herken.

Vandeesweek het ʼn vrou ook vir Desireé gekontak wat beweer sy het as kind vir Dennis geken. Volgens die vrou was sy 12 jaar oud toe haar ouers begin het om gereeld vir Dennis kos te neem. Sy vertel dat Dennis briewe aan haar geskryf het waarin hy vertel van sy familie en lewe in Bloemfontein. Die vrou het gesê Dennis het die briewe in die styl van ʼn vervolgverhaal geskryf en elke brief het gevolg op die voriges.
“Die vrou sê ongeveer twee jaar nadat sy vir Dennis leer ken het, het hy vir ʼn ruk net verdwyn en toe hy terugkom, het hy homself as Francois voorgestel,” vertel Desireé. “Hy het snymerke en wonde gehad en sy kon sien dat hy in ʼn ongeluk was. Hy het klaarblyklik geheueverlies gehad, want hy kon nie onthou dat sy naam voorheen Dennis was nie. Hy het ook stadiger gepraat, asof hy in ʼn ongeluk was.”

Die vrou het later verhuis en kontak met Dennis, oftewel Francois, verloor. Toe sy egter die foto van hom op Facebook sien, het sy hom dadelik herken en vir Desireé gekontak om haar van die briewe te vertel.

“Die inligting wat sy uit die briewe onthou, is 100% akkurate inligting van Dennis se lewe in Bloemfontein. Dit lyk asof dit regtig hy is,” het Desireé gesê.

“Die vrou het vir my gesê sy het altyd gewonder hoekom sy so goeie geheue het. Nou weet sy dit is omdat die Here geweet het hierdie man gaan sy geheue verloor en sy sal sy storie moet vertel.”

Dennis Haynes se familie glo die man van Pretoria is hul broer wat dekades gelede vermis geraak het.
Desireé het ook gesê ʼn man het Donderdag deur Facebook met hulle kontak gemaak en beweer dat Dennis jare gelede voor die plek waar hy werk in ʼn tref-en-trap-ongeluk betrokke was. Volgens die man het hy vir Dennis hospitaal toe geneem, maar toe ook weer met hom kontak verloor.

Desireé het gesê die familie het DNS-toetse laat doen om te bepaal of Francois wel hul lank verlore broer Dennis is. Hoewel hulle nog op die uitslae wag, is die familie vas oortuig dat hul broer na al die jare gevind is.

“My oom was jare lank in die polisie en hy het vir my gesê destyds het hulle nie regtig baie aandag aan vermiste persoon-sake gegee nie. Daardie tyd het hulle gedink as ʼn volwassene vermis raak, het hy seker uit vrye wil geloop, so daar is nie baie moeite gedoen om die persoon op te spoor nie,” het sy gesê.

Terwyl daar op die uitslae gewag word, bly Dennis by een van Desireé se vriendinne op ʼn plaas buite Theunissen en help hulle hom met tandheelkundige en mediese behandeling.

Bron: Maroela Media


Pretoria-dieretuin oopgehou deur handjie vol nie-stakende werkers

Pretoria-dieretuin oopgehou deur handjie nie-stakende werkers

Die Nasionale Dieretuin in Pretoria sal oop bly ondanks ’n staking van 120 dieretuinwerkers wat lede van die National Trade Union Congress (NTUC) is. Dit is sowat ’n derde van die werkers.

Die res van die werknemers hou die dieretuin aan die gang.

Craig Allenby, woordvoerder van die dieretuin, sê die dieretuin sal soos gewoonlik oop wees vir besoekers en “daarom is daar geen dringende behoefte aan vrywilligers nie”.

Sondagoggend het lede van die SAPD by die dieretuin opgedaag om stakende werknemers wat die ingang versper het, uiteen te dryf.

“Hulle het nie toestemming gehad ingevolge wetgewing om hier te wees nie,” sê Allenby.

Die werkers het begin staak nadat geskille oor oortydbetaling nie opgelos kon word nie.

Die 120 NTUC-lede het verlede week ’n kennisgewing van voorneme om te staak van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie aan die bestuur oorhandig.

NTUC dring daarop aan dat werkers oortyd betaal word op ’n Saterdag en Sondag.

’n Gesamentlike ooreenkoms is in 2009 deur die nasionale dieretuin-vakbonde gesluit waarin op ’n spesifieke werkrooster van sewe dae besluit is.

NTUC is in Februarie verlede jaar as ’n vakbond geregistreer en was dus nie destyds by die ondertekening van die ooreenkoms betrokke nie.

NTUC wil nou hê dié ooreenkoms moet tersyde gestel word en dat werkers op ’n vyfdagrooster ingedeel word en oortydbetaling moet kry vir ’n Saterdag en Sondag.

Sophonia Machaba, nasionale sekretaris van NTUC, sê die ooreenkoms is voor 2009 gesluit.

Allenby sê egter die dieretuin “kan nie die werknemers se eise nakom nie omdat dit finansieel onbekostigbaar en onprakties is”, maar Machaba sê hulle sal aanhou staak totdat ’n ooreenkoms bereik is.


Centurion-lisensiekantoor gesluit ná rooftog

Centurion-lisensiekantoor gesluit ná rooftog

Die lisensiekantore in Centurion is Woensdag gesluit ná ʼn rooftog Dinsdagaand.

Daar is verskeie rekenaars en kameras tydens die aanval gebuit.
Die Tshwane-metropolisie het in ʼn verklaring gesê die kantore is gesluit om die SAPDmtoe te laat om hul ondersoek ongehinderd uit te voer.

Volgens die metropolisie en die munisipaliteit sal die kantore Donderdag weer oopwees, maar sal daar slegs beperkte dienste aangebied word.

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat rekenaars, eNaTIS-skerms en ander rekenaartoerusting gesteel is.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die dienste wat Donderdag beskikbaar sal wees, sluit leerlinglisensies, praktiese toeste vir bestuurslisensies en die afhaal van nuwe lisensiekaarte in.

“Daar sal tot verdere kennisgewing geen lisensiehernuwingsversoeke verwerk word nie. Mense kan in die tussentyd Akasia en
Bronkhorstspruit se lisensiekantore besoek vir dié diens,” het Mahamba gesê.


Vat my hande dat ek opstaan vir my volk – inskrupsie van ‘n indrukwekkende grafsteen in Pretoria-Wes

Vat my hande dat ek opstaan vir my volk - inskrupsie van 'n indrukwekkende grafsteen in Pretoria-Wes

In die Nuwe Kerkhof in Pretoria-Wes (Rebeccastraat) staan ’n indrukwekkende grafsteen – ’n massiewe rotsblok waarop die veelseggende inskripsie aangebring is: Vat my hande dat ek opstaan vir my volk

Dit is die laaste rusplek van een van Suid-Afrika se bekendste, maar ook een van die mees omstrede krygsmanne, generaal Manie Maritz.

Salomon (Manie) Gerhardus Maritz is op 26 Julie 1876 in Kimberley gebore. Op 19-jarige ouderdom het hy na Johannesburg verhuis; vanweë sy vrywillige diens aan die Republiek met die Jameson-inval is aan hom die burgerregte van die Zuid-Afrikaansche Politie (ZARP) toegeken en met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy hom as manskap by die Boksburg-kommando aan, om veral in Natal diens te doen.

Maritz was ’n kort, bonkige man wat oor buitengewone liggaamskrag beskik het. Sy moed en dryfkrag het hom ’n gedugte teenstander gemaak. Hy het ’n rustelose geaardheid en ’n haastige humeur gehad wat hom baie vyande besorg het, maar sy patriotisme en liefde vir sy volk het deur sy dade gespreek. Op sy sterfbed het sy opregte volksgevoel vir oulaas tot uiting gekom toe hy die woorde op sy grafskrif geprewel het.

Vat my hande dat ek opstaan vir my volk - inskrupsie van 'n indrukwekkende grafsteen in Pretoria-Wes
In die Anglo-Boereoorlog is Maritz na die vroeë oorlogsmaande na Noordwes-Kaapland gestuur, waar hy as kommandant en later generaal bevel oor die burgers en rebelle uit die distrikte Calvinia en Kenhardt gevoer het. In hierdie tydperk is hy twee keer gewond, maar hy het sodanig herstel dat hy sy soldate selfs nog tot by Darling (21 Oktober 1901) gevoer het.

Toe die vrede op 31 Mei 1902 gesluit is, het Maritz geweier om wapens neer te lê en gaan hy deur Duits-Suidwes-Afrika na Europa. Tog keer hy in 1904 terug, en na ’n kort verblyf in SWA gaan hy na Ventersburg om daar te boer. Hy trou met Emma Francis Nel, en uit die huwelik is twee seuns en twee dogters gebore.

In 1912 sluit hy hom weer by die Polisie aan. Hy beklee die rang van kommandant. In dieselfde jaar bedank hy egter uit die SA Polisie en sluit hom by die nuwe Unie-verdedigingsmag aan, as majoor. Hy bots egter gou met generaal JC Smuts toe hy weier om deel te neem aan die inval teen SWA, en hy rebelleer saam met die meeste van sy manskappe. Toe dit duidelik word dat die rebellie gaan misluk, besluit hy en generaal JCG Kemp aanvanklik ook om oor te gee. Maritz besluit egter later daarteen en gaan weer eens deur SWA na Angola en Portugal, waar hy hom tydelik gevestig het. Nadat hy ook drie jaar lank in Duitsland gewoon het, keer hy teen 1923 na Suid-Afrika terug, waar hy van hoogverraad aangekla en gevangenisstraf van drie jaar opgelê is. In 1924 laat die pasverkose Pakt-regering hom vry.

Generaal Maritz het in sy later jare ’n vurige bewonderaar van die Nasionaal-sosiale leerstellings geword. Benewens toesprake waarin hy veral striemende aanvalle op die Jode gedoen het, het hy ook in sy outobiografie, My lewe en strewe, die aanvalle voortgesit wat hom ’n boete van £75 (R150) op die hals gehaal het, omdat hy die “opsetlike doel” gehad het “om vyandige gevoelens teenoor die Jode” aan te wakker.

In die Tweede Wêreldoorlog het Maritz hom met verskeie buite-parlementêre politieke groepe wat teen die oorlog en die toenmalige regering gekant was, besig gehou. Sy stormagtige loopbaan is deur ’n noodlottige motorongeluk, digby Pretoria op 19 Desember 1940 beëindig toe hy ongeveer ’n uur na die ongeluk aan veelvuldige beserings in die hospitaal oorlede is.

Sy begrafnis, wat op 22 Desember 1940 uit die Pretoriase stadsaal plaasgevind het, het die Afrikanervolk se respek vir hierdie Afrikaner-patriot bevestig. Reeds vroeg op daardie Sondag het dit geblyk dat dit ’n ware volksplegtigheid gaan wees. Sy oorskot het van 11h00 tot 14h00 in staatsie gelê, duisende mense het in lang onafgebroke rye by die kis verbybeweeg. Daar naby is die Rebellievlag gehys. Dominee (later doktor) PSZ Coetzee, van Johannesburg, het die begrafnis gelei, na aanleiding van die teks “Jy sal gemis word want jou plek sal leeg wees”. Na afloop van die diens het die stoet na die kerkhof beweeg tussen duisende mense deur, die laaste ongeveer twee kilometer deur ’n erewag van Ossewa-Brandwag-lede. Vooraan die stoet het ses ruiters met ’n Rebellievlag gery, en agter die lykwa is ’n wit perd, bedek met ’n roukleed, deur twee vroue gelei.

’n Massiewe rotsblok van blou graniet is op sy graf opgerig. Die basis van die buitengewone grafsteen, wat nagenoeg 3½ m hoog is, is ongeveer 6 m in omtrek. Amper 1 m van onder af is ’n gedeelte gelyk gemaak, waarop die ingrypende inskripsie (sy laaste woorde) gegraveer is. Daarby verskyn ook die volgende woorde: Genl. Manie Salomon Gerhardus Maritz 1876–1940.

In sy rede by die begrafnis het dominee SJ Stander, indertyd van Hartbeesfontein gesê: “Ons groot manne lei die volk op die pad van Suid-Afrika, daarom sterf hulle in riviere en op die pad.”

Vat my hande dat ek opstaan vir my volk – inskrupsie van ‘n indrukwekkende grafsteen in Pretoria-Wes

 


Oudste persoon ter wêreld in Pretoria te ruste gelê

Oudste persoon ter wêreld in Pretoria te ruste gelê

Die “wêreld se oudste persoon” is op Saterdag 10 Junie in Pretoria begrawe nadat sy verlede week in die ouderdom van 134 oorlede is.

Volgens die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling het dié bejaardevrou, Johanna Rametsi, van Hammanskraal in die verre noorde van die stad, die oudste persoon in die wêreld geword nadat die Indonesiër Saparman Sodimejo in April vanjaar in die ouderdom van 146 oorlede is.

“Gogo Rametsi is op 1 Januarie 1883 in Krugersdorp aan die Wes-Rand gebore. Sy word oorleef deur twee van haar 16 kinders – haar dogters Wilhelmina Phiri (97) en Ouma Thema (79). Sy het 78 kleinkinders en 247 agterkleinkinders,” het die departement gesê.

Die departement was aan die stuur van gemeenskapsinisiatiewe om vir Rametsi ʼn waardige begrafnis te reël.
Die begrafnisdiens het om Saterdag 08:00 plaasgevind in Stinkwater, Hammanskraal, in die gemeenskapsaal langs Maratola Primary School.